Mylpaal wink vir manjefieke Morné

Morné Steyn. Foto: GB Jordaan.

Die persoon wat Morné Steyn se rugbygetuigskirf moet opdateer is sekerlik voltyds aangestel – die immergroen speler sorg gereeld nog vir nuwe hoogtepunte.

Indien die 38-jarige losskakel hierdie Saterdag in die Bulls se wedstrydgroep vir die derbystryd teen die Stormers is, kan hy in sy 150ste Superrugby- en Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd vir die Pretorianers uitdraf. En dit boonop ook op Loftus Versfeld!

Die span word binnekort aangekondig.

Hoewel die Bulls-bestuur deesdae op Johan Goosen en Chris Smith staatmaak om op losskakel diens te doen, sit Steyn steeds nie sommer ʼn voet verkeerd nie.

Benewens die harte van die Britse en Ierse Leeus-toerspan wat hy elke 12 jaar breek, was sy geleerde skopvoet ook al in die VRK die verskil tussen wen en verloor.

Hy het verlede jaar in die 78ste minuut van die Bulls se kragmeting teen Edinburgh agter die skopkelkie aangetree en terstond die wedstryd vir sy span gewen.

Sy spanmaats (én teenstanders) weet teen hierdie tyd dat somme eintlik eenvoudig in die doodsnikke van ʼn belangrike kragmeting is: Strafskop + Steyn = drie punte.

Hy kan drieë ook druk. Foto: GB Jordaan.

Steyn het vroeër tydens Vlok Cilliers se liefdadigheidsgeselligheid by Hoërskool Eldoraigne gesê dat harde werk die sleutel tot sy sukses is. Hy het seker al derduisende balle op Loftus se oefenveld geskop.

“Toe ek destyds by die Bulle aangesluit het, was ek meer van ʼn aanvallende losskakel as iemand wat vir sy skopwerk bekend was. Ek het vinnig agtergekom wat harde werk alles behels; as ek op ʼn hoër vlak wou speel, sou ek aan my skoppe moes werskaf,” het Steyn gesê.

Hy het in 2021 uit internasionale rugby getree nadat hy 742 punte vir die Springbokke in slegs 68 wedstryde aangeteken het.

Om sy bydrae vinnig in perspektief te plaas: Suid-Afrika het 64,7% van die toetse gewen waarin Steyn gespeel het.

En met ʼn provinsiale loopbaan wat ook einde se kant toe staan, sal dit lekker wees om hom teen die Kapenaars op sy geliefde Loftus te sien.

Morras mis immers nie sommer ʼn skop nie.

  • Steyn se wedstrydrekord in Pretoria:

Superrugby: 129 wedstryde

Verenigde Rugbykampioenskap: 20 wedstryde

Kampioenebeker: 2 wedstryde

Blou Bulle: 116 wedstryde

Groottotaal: 268 wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mossie ·

EK hoop hy bly aan as skop afrigter. Hy sal beslis ‘n aanwins wees vir die jonger manne.

George ·

en hy is n fantasiese mentor. Ek hoop ons spanne maak gebruik soos die NFL en IPL spanne van mentors, hulle gee soveel vir daai spanne. Kan jy dink jys 19 by die akademie span, en Morne help jou 3keer n week, en staan jou by geestelik.

Harley Davidson ·

Dit is omtrent soos Helgard Muller wat eers uitgetree het toe sy seun vir Vrystaat begin speel het ,staan vas jy is amper daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.