Mylpaal wink vir WP teen Stormers

WP Nel kan Saterdag in sy 200ste wedstryd vir Edinburgh speel. (Foto: Malcolm Mackenzie/DPPI via AFP)

ʼn Spesiale mylpaal wink Saterdag vir WP Nel wanneer Edinburgh teen die Stormers op die DHL-stadion in Kaapstad speel.

Indien die ervare voorryman op die veld draf, sal dit sy 200ste wedstryd vir die Skotse klub wees. Net Allan Jacobsen en Chris Paterson het dan in meer wedstryde as die Suid-Afrikaans-gebore speler vir Edinburgh gespeel.

“Dit is spesiaal. Nie baie spelers kan met soveel wedstryde vir ʼn span spog nie. Ek het aanvanklik nie gedink dat ek 100 wedstryde sou speel nie; dus is die 200-mylpaal omtrent vir jou ʼn mylpaal. Dit sal ongelooflik wees om die prestasie in Kaapstad te vier,” het die vaskopstut gesê.

Nel vier binnekort sy 38ste verjaardag en hy het meer as tien jaar gelede sy eerste wedstryd vir Edinburgh gespeel nadat sy rugbypad hom van die Vrystaatse vlaktes na die Skotse hooglande geneem het.

Maar om die mylpaal in Kaapstad te behaal sal ongetwyfeld die kersie op die koek wees.

Hy het immers in 2008 ʼn paar wedstryde vir die Westelike Provinsie gespeel, voordat hy koers na die Boland, die Cheetahs en uiteindelik Edinburgh en Skotland gekies het.

“My vrou [Alana] het nog familie wat in die omgewing bly, terwyl dit ook lekker sal om vir Brok Harris te sien. Toe ek ʼn o. 20-speler was, het hy begin naam maak by die Stormers. Ons is goeie vriende en dit sal baie lekker wees om teen hom te speel – twee ou manne wat mekaar in die skrums aanvat!”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Spelers met die meeste wedstryde vir Edinburgh:

273 – Allan Jacobsen

205 – Chris Paterson

199 – Ross Ford en WP Nel

198 – Grant Gilchrist

177: Stuart McInally

169: Mike Blair

164: Andy Kelly

159: Craig Smith

151: Hamish Watson en Phil Godman

Edinburgh-groep: Ben Muncaster, Bill Mata, Boan Venter, Connor Boyle, Dave Cherry, Hamish Watson, Jamie Hodgson, Javan Sebastian, Luan de Bruin, Marshall Sykes, Paddy Harrison, Tom Dodd, WP Nel, Ben Vellacott, Cammy Scott, Charlie Shiel, Chris Dean, Emiliano Boffelli, Jake Henry, James Lang, Mark Bennett, Matt Currie, Wes Goosen, Ben Healy, Duhan van der Merwe, Ewan Ashman, Grant Gilchrist, Jamie Ritchie, Pierre Schoeman en Sam Skinner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.