`n Afrigter om van te droom

Wayne Smith (Foto: bbc.co.uk)

Wayne Smith (Foto: bbc.co.uk)

`n Mens moet darem `n baie sagte plekkie vir jou land en `n groot liefde vir rugby hê om die geelwortel van ponde, dollars en euro’s van die hand te wys.

Die 58-jarige Wayne Smith kan kies en keur waar hy wil afrig. Hy het onlangs `n baie groot aanbieding van Harlequins in Engeland ontvang en dit van die hand gewys, hy was op die kortlys om Engeland af te rig, voelers uit Suid-Afrika is na hom uitgesteek, die Wallabies, Waratahs en Force het tou gestaan om sy handtekening te bekom en Japanse klubs het agteroor gebuig om hom soontoe te lok.

Maar die lojale Smith, wat ná verlede jaar se Wêreldbeketoernooi Nieu-Seeland drie maande lank saam met sy vrou in `n motor-woonwa platgereis het, het besluit om hom vir nog twee jaar te verbind om een van die All Black-afrigter, Steve Hansen, se assistente te wees.

Ek het Smith die eerste keer ontmoet toe hy in 1986 saam met die Nieu-Seelandse Kavaliers in Suid-Afrika getoer het. Hy en Grant Fox was die twee losskakels in die toerspan en hy moes tweede viool teen die goue seun van Nieu-Seelandse rugby speel.

Smith het net in die vierde “toets” teen die Springbokke gespeel, wat Suid-Afrika 24-10 gewen het.

Maar ek het toe al besef dat dié denker van die spel uitgeknip is vir groter dinge.

Smith het altesame 35 keer vir All Blacks gespeel en in 17 toetse tussen 1980 en 1985.

Hy het die Crusaders tussen 1997 en 1999 afgerig, toe hulle twee keer die Superreeks gewen het. Dis waar ons paaie weer gekruis het, want hy het altyd tyd afgeknyp om met jou te gesels: oor sy hartstog, lojaliteit en breë kennis van die spel. Ek kon ook van sy oefeninge bywoon, want hy het jou vertrou.

Afgesien van dr Ernst Dinkelman en Gerrit Pool het ek by Smith in `n paar uur byna meer geleer as by ander afrigters in jare. Oor hoe besit beskerm moet word, om jou teenstanders met flinke voetwerk te klop eerder as om oor hom te probeer stormloop, om takties goed te kan skop en hoe om te verdedig.

Hy het die All Blacks in 2000 en 2001 afgerig en was van 2004 tot 2011 een van Graham Henry se assistente. Hy het dieselfde rol onder Hansen vervul – en praat maar met enige All Black-agterspeler: die een of ander tyd het Smith `n rol in sy loobaan gespeel.

“Op my ouderom is ek nie meer so ambisieus nie, dit gaan oor die span. Ek wil help om die grootsheid te behou,” het Smith aan stuff.co.nz gesê.

“Die uitdaging is om nuwe spelers te ontwikkel en hulle te help om goeie All Blacks te word.”

`n Afrigter om van van te droom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.