ʼn Baie besige en belangrike rugbyjaar vir Suid-Afrika

Die belangrikste en moontlik ook Suid-Afrikaanse rugby se besigste jaar het Maandag nóg ʼn stootjie gekry met die nuus dat die Springbokke 15 dae voor hul Wêreldbeker-toetrede ʼn tweede opwarmwedstryd speel.

Hoekom is 2019 so ʼn belangrike rugbyjaar?

Daar is ʼn paar redes. Suid-Afrika staan ná die fiasko van Allister Coetzee se afrigting met die onaanvaarbare loesings plus sy algehele onvermoë om vertroue te skep dat die Springbokke op pad boontoe is, steeds by ʼn kruispad.

Dinge gaan nou beter. Rassie Erasmus het die span, ondanks ses neerlae waarvan vier met vyf of minder punte was, ʼn reeksoorwinning oor Engeland en ʼn sege teen die All Blacks weer die teenstanders laat regop sit en kennis neem: die Bokke is miskien nog nie daar nie, maar hulle is op pad terug.

Sal Erasmus die opwaartse swaai kan volhou?

Die laaste opwarmwedstryd teen Japan, teen wie die Bokke met die intrapslag in 2015 se Wêreldbeker-toernooi verloor het, word op Vrydagaand 6 September in die Kumagaya Rugbystadion in Saitama, noord van Tokio, gespeel.

Die Bokke se eerste wedstryd in die Wêreldbeker-toernooi is op Saterdag teen die All Blacks en hul laaste voorbereidingskamp vir die toernooi word van 7 tot 13 September in Kagoshima City, gehou.

Die vol seisoen ‒
Daar is aanstaande jaar sommer baie rugby, vanaf onder 13-vlak tot die Wêreldbeker-toernooi, wat rugbyliefhebbers heelwat gee om uit te kies.

Sewesrugby

Die amptelike Suid-Afrikaanse rugbyjaar begin reeds op 26 Januarie met die Wêreldrugby-sewestoernooi in Nieu-Seeland. Dit is die eerste van die agt oorblywende toernooie in die 2018/’19-reeks wat op 2 Junie in Parys ten einde loop.

Pro14
Hoewel dit nie ʼn Suid-Afrikaanse toernooi is nie, sit die Southern Kings (Saterdag 5 Januarie) en die Cheetahs (Sondag 6 Januarie) hul stryd voort om van die laaste plekke in die Pro14-reeks se twee puntetabelle op te skuif.

Die belangrike vraag oor Suid-Afrika se oorsese deelname of daar in die volgende Europese seisoen nóg ʼn Suid-Afrikaanse span of twee in een van die oorsese reekse gaan meeding, kan dalk vanjaar beantwoord word.

Griekwas en die Pumas is reeds geïdentifiseer as oorsese franchise’e en kan dalk reeds in die jaar aan ʼn oorsese reeks toegewys word. Die Sharks maak ook geluide om oorsee weg te breek. Dít kan egter nog jare duur, want hulle is kontraktueel tot die Superreeks verbind.

Varsitybeker

Die Varsitybeker begin op 4 Februarie. Die reeks se 39 wedstryde loop eers in April ten einde. Daar is natuurlik ook die Varsityskild-reeks, die Young Guns se kans om die jong potensiaal uit te stal, en ook die koshuisreeks wat deel van die tussen-universitêre kompetisies uitmaak.

Superrugby

Die Superrugby-reeks begin op 15 Februarie en die 120 ligawedstryde en die sewe uitspeelwedstryde neem 21 naweke in beslag met die eindstryd-hoogtepunt wat op 5 Julie gespeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.