’n Bok met (te veel) skop?

Faf de Klerk laat waai met sy skopvoet. Foto: Odd Andersen.

“Op die einde van die dag Dok, is ons maar net ’n mens. Met ’n boot, bootie, boot wat baie skop,” sing Leon Schuster in een van sy treffers.

Die video mag dalk destyds na ’n skoppende Naas Botha verwys het, maar dit is ongetwyfeld vandag steeds relevant – veral as na die Springbokke se skop-en-hoop-strategie gekyk word.

Die Bokke se wedstrydplan ontlok ongetwyfeld baie kritiek. Eerstens van die internasionale rugbygemeenskap omdat Siya Kolisi se span die Webb Ellis-trofee én die reeks teen die Britse en Ierse Leeus met dié strategie gewen het.

Maar ná drie agtereenvolgende nederlae is plaaslike rugbyliefhebbers ook effens keelvol vir die alewige geskoppery.

“Skop en storm, wat ’n vervelige storie,” het een Maroela Media-leser die afgelope naweek gekla toe die Springbokke met 19 – 17 in die honderdste toetswedstryd teen die All Blacks verloor het.

Maar, sê Jordie Barrett (die man wat die wenstrafskop oor die dwarslat gejaag het) die skoptaktiek het vir ’n paar benoude oomblikke – veral vir die agterste driehoek –  gesorg.

Die Springbokke se enigste drie het juis van ’n skop gekom wat George Bridge op die All Blacks-doellyn misgevang het.

S’bu Nkosi het die Springbokke se enigste drie teen die All Blacks gedruk; juis nadat George Bridge ’n skop misgevang het. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

“Dit is iets wat ek nie van George verwag het nie. Tydens oefensessies vang hy alles raak,” het Barrett gesê.

Volgens die Kiwi-heelagter het die Bokke se skopstrategie – veral wanneer hulle naby die Kiwi’s se doellyn is – hulle met tye onkant betrap. Dan maak Faf de Klerk dinge ook soms moeilik met sy skopvariasies.

“Ek het nog nooit met soveel mededingende skoppe in ’n wedstryd te doen gekry nie. Dit was ’n taai uitdaging, maar ek het dit beslis geniet. Elke keer wanneer hulle gereed maak om te skop, het ek geweet dit is ’n geleentheid om ’n lugaanval te wen.”

Barrett meen dat hulle ’n teenvoeter daarvoor sal moet vind want die Bokke gebruik dit in verskillende scenario’s gedurende ’n toets.

“Hulle doen dit selfs wanneer hulle op die aanval in ons gebied is: Skop die bal na een van ons ouens wat effens op sy eie staan en baie van hul spelers sit dan die bal met mening agterna.”

Maar hier is die probleem met die skop-en-hoop-spelpatroon – almal weet teen hierdie tyd wat om van die Bokke te verwag.

Barrett het self gesê dat die All Blacks nou meer as genoeg tyd vóór die volgende toets het om ’n plan te beraam om enige Bok-skop te fnuik.

Speel steeds volgens jou sterkpunte, maar moenie ’n ding oordoen nie.

Dalk kan ’n mens ’n snelbouler as voorbeeld gebruik. Vyf agtereenvolgende wegswaaiers buite die wegpen sal nie vir veel hoofbrekens sorg nie, maar daardie sesde bal wat skielik terug na paaltjies beweeg kan dinge vir ’n kolwer bemoeilik.

’n Mens moet egter seker ook in ag neem dat die Springbokke tot laat in die Townsville-wedstryd met 17 – 16 voorgeloop het. Sou daar steeds soveel klagtes gewees het as hulle die toets gewen het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anthony

Lol…geen kommentaar nog nie. Dit se sekerlik iets van wat ons dink van die geskoppery ne….

Mallie

Faf is nou n skopper en nie n rugby speler nie.

Kokkie

Daar word gesê dat die Bok senterpaar tans die beste in wêreldrugby is. Op grond waarvan dit gesê word, is glad nie vir my duidelik nie. As Faf of Pollard nie skop-en -hoop nie, dan laat sak Damian sy kop en storm blindelings in die verdedigers in. Ek hoop van harte dat ons jong skole-rugbyspelers nie hulle rugbyloopbane op hierdie voorbeeld gaan ontwikkel nie. Natuurlike begaafde agterspelers gaan doodeenvoudig verdwyn, want hulle natuurlike instinkte word doodgesmoor. Hoe moet die toekomstige Danie Gerbers , André Jouberts, Carel du Plessis’ en Joost vd Westhuizens hulle vaardighede beoefen en ontwikkel as die Rassie/Nienaber-patroon… Lees meer »

Andre

Ons agterlyn beteken nou niks, al wat Faf kan doen is skop en maak of hy n voorspeler gaan boks. Ek hoop eendag gee een van hulle hom netn helse klap.

Ons rugby is eentonig en voorspelbaar.

Androclus

DIE Springbok-skakelpaar van Faf de Klerk en Handré Pollard en die heelagter, Willie le Roux, kom tans nie die mas op nie.

Die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, moet Saterdag se laaste toets teen die All Blacks in die Rugby Cham­pionship gebruik om Herschel Jantjies en Elton Jantjies as sy skakelpaar in te span, en hy moet Aphelele Fassi ’n kans op heelagter gee.