ʼn Britse en Ierse Leeus-rugbytoer die kersie op die koek

Een van Tom van Vollenhoven se beroemde driee teen die Britse Leeus van 1955. Argieffoto.

Die Britse en Ierse Leeus was nog altyd die kroonjuweel van die vier Britse tuisunies en dis hoekom hulle heel waarskynlik nie die geldkoek sal wil sny wat die Argentynse rugbybaas Agustin Pichot, wat ook die ondervoorsitter van Wêreldrugby is, voorstel nie.

Pichot sê basta met alleentoere na Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië, die Leeus moet ook deur Argentinië, Suid- en Noord-Amerika toer.

Volgens tradisie toer die Leeus net elke vier jaar onderskeidelik na een van die Groot Drie van die Suidelike Halfrond, hoewel hulle voorheen ook wedstryde in Argentinië, Zimbabwe (Rhodesië), Namibië (Suidwes-Afrika), Oos-Afrika, Fidji, Sri Lanka, Kanada, Frankryk en Wallis onderneem het en ook al teen die Barbarians gespeel het.

Die Leeus het tot dusver 46 keer teen die Springbokke gespeel, was 17 keer aan die wenkant, het 23 keer verloor terwyl ses toetse gelykop was.

Hul vertoningslys teen die All Blacks is nog swakker (41 gespeel, net sewe gewen terwyl ses toetse gelykop was).

Teen die Wallabies stoot die Leeus bors uit, want hulle het 17 van die 23 toetse gewen en net ses keer verloor.

Die Leeus moet aanstaande jaar weer deur Suid-Afrika toer en wees maar verseker, dit kan een van die grootste sporthoogtepunte op die Suid-Afrikaanse kalender wees. Dit sal beslis die reddingsboei vir Suid-Afrikaanse rugby wees, veral nadat die Wêreldbekertoernooi vir 2023 aan Frankryk toegeken is en die Covid-19-pandemie verwoesting saai.

Ons weet nie te veel van die heel ouer Leeu-toere nie, maar waarvan ons wel weet en vertel is, was die soet en suur van die 1955-toer, met Tom van Vollenhoven se drie drieë op Nuweland, die hoogtepunt.

Wat van die ikoniese foto in 1955 (voor 95 000 toeskouers op Ellispark), toe die Springbokheelagter Jack van der Schyff se mislukte doelskop die Bokke die eerste toets met 22-23 laat verloor het? Hoekom is Van der Schyff, wat glo goed vertoon het, gepos om nooit weer vir die Bokke te speel nie? Was dit so erg?

Wat van Mannetjies Roux se twee drieë in 1962 in die vierde toets in Bloemfontein, toe die Bokke met 34-14 gewen het?

Wat van Frik du Preez se drie in die eerste toets in 1968 op Loftus?

In 1974 was nasionale keurders koekoes teen waarskynlik die beste span wat Suid-Afrika nog besoek het. Vier gespeel, drie verloor, een gelykop – só lees die Bokke se rapport.

In 1980 het Naas Botha die Leeus voos geskop en in 1997 was dit die Bokke se gebrek aan ʼn betroubare stelskopper wat hulle die reeks gekos het, terwyl Neil Jenkins telkens die kol getref het.

In 2009 was die Springbokspan, dalk die beste Bok-span van alle tye, kookwater in die eerste twee toetse.

Maar as Pichot aanstaande maand vir Bill Beaumont (ʼn oud-Britse en Ierse Leeus-kaptein) uit die kussings as Wêreldrugby se voorsitter lig, hoe lank sal Suid-Afrika dan vir ʼn Leeu-toer wag?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.