`n Dag is `n lang tyd in rugby

Duane-Vermeulen. Vrae word gevra. (Foto: express co.uk)

Duane-Vermeulen. Vrae word gevra. (Foto: express co.uk)

`n Dag is `n baie lang tyd in rugby.

Slegs vyf dae gelede was Duane Vermeulen nog `n held, ene wat in die Kaap (en elders landswyd) op die hande gedra is. Die man – met die bynaam Thor wat afgelei is van die mitologiese Noorweegse god Thor – word nou gekruisig.

Hy is tog immers die man wat oor sowat 90 dae die waarskynlik mantel moet dra wanneer die Bokke  in Engeland die Wêreldbekertoernooi moet probeer wen.

Het hy nou voete van klei gekry? Sedert Vrydag lees ons van “droster-Duane”, `n speler wat sy rug op die Stormers en Suid-Afrikaanse rugby gedraai het omdat hy hom by die Franse klub Toulon aangesluit het, en in die span se rooi trui aan die res van die wêreld as hul kopie van die jaar voorgestel is.

Plaaslik is die ondersteuners briesend. Dis sy skuld dat die Stormers in die kwarteindstryd van die Superreeks teen  die Brumbies verloor het, dis sy skuld dat daar Saterdag op Nuweland net 28 000 toeskouers op Nuweland was, word daar gesê.

Sy spanmaats is glo steeds in die duister oor sy wel en weë, Stormers-afrigter Allister Coetzee kan ook nie antwoorde verskaf nie en die Westelike Provinsie se grootbase wag steeds op `n verduideliking.

Kan dit wees, die man wat in almal se harte sedert 2012 ingekruip het toe hy in die eerste van sy 29 toetse gespeel het?  Die man wat toe hy as Suid-Afrika se Speler van die Jaar aangewys is, trane in sy oë gehad het en sy ondersteuners saam met hom laat huil toe hy sy bedankingstoespraak afgesteek het?

Die man wat vanjaar vir 848 minute in 11 Superwedstryde sy lyf vir die Stormers op die spel geplaas het?

Iewers het die drade gekruis, want gaan lees maar sy Facebook-inskrywings (wat sedert verlede week opgedroog het). Hy bedank Puma vir sy rooi rugbyskoene (ironies) met sy naam en SA vlaggie daarop. Hy bedank Oakley (sonbrille) vir `n Kersgeskenk, hy sê dankie aan Land Rover vir die gebruik van `n Discovery.

Hy was feitlik daagliks met van sy mede-spelers en oud-spelers en ander vriende in verbinding, sy vrou en dogtertjie is sy oogappels.

Dit help nie om die kar voor die perde in te span nie, want Vermeulen het nog nie sy kant van die saak gestel nie. Die groot probleem is dat hy nie op joernaliste se boodskappe reageer nie en (sover my kennis strek) kon hy nog nie opgespoor kon word nie.

Die vrae wat hy moet beantwoord is of hy toestemming gehad om drie voor die Superrugby-wedstryd na Toulon te reis en wie het dit gegee?  Ons weet die WP se direkteur van afrigting Gert Smal was openlik ontstoke.

Dit herinner aan die land se politiek, aan Gupta Gate, aan die toesmeerdery om die Soedanese president wat op klandestiene wyse uit die land gesmokkel is terwyl  `n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is.

Wat wel waar is, is dat SA rugby reeds lankal die handdoek ingegooi het om spelers in die land te  probeer  hou. Ons kan nie meeding met die Franse, Japanners, Engelse, Ierse en Skotse klubs nie.

Daar word gesê dat Vermeulen glo tussen R41 en R45 miljoen oor `n tydperk van drie jaar sal ontvang, met die minimum persoonlike belasting en boonoop die gebruik van `n huis, motor, ensovoorts.

Maar sy tydberekening was egter  uiters sleg, want hy moes, ondanks sy nekbesering, langs die kantlyn gewees het toe die Stormers geoefen het. Hy moes in die kleedkamer gewees het toe die spanpraatjie gehou is … hy kon vandag sonder enige lastige vrae na Toulon gereis het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

Joernaliste en Politici – alles in een asem!
Waar het Duanne Vermeulen sy rug op SA rugby gedraai? Sover ek die persverklarings verstaan, het hy ‘n kontrak met Toulon aangegaan om daar “klub” rugby te speel. Hoe is dit anders as toe Matfield in Frankryk gaan speel het (waar hy dit terloops nie kon maak nie seker omdat hy moes presteer en nie rondstaan op die veld nie)? Hoe is dit anders as Pienaar wat in Engeland speel en du Preez wat in Japan speel? (waar hy al vir die afgelope drie maande glad nie eens meer speel nie) Hulle is nog steeds in die Bokspan.
Het Vermeulen ook sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig en gese hy is NIE beskikbaar vir die Bokke nie?
Waarom het hy nodig om aan joernaliste antwoorde te gee? Wat presies is ‘n joernalis in die samelewing dat ‘n professionele rugby speler aan hulle moet verantwoording doen?
Die man is beseer. Hy is deur medici afgeboek en hy is volgens sy kontrak geregtig op siek verlof.
WAT – vereis van hom om tydens siek verlof langs die veld te sit? Of in die spankamer te wees voor die wedstryd?
Lojaliteit? Goed – 848 minute op die veld. Selfs met beserings. 11 Superliga wedstryde. Selfs met beserings. Watse lojaliteit het die Stormers aan hom gebied hiervoor?

Nico ·

Pieter moet asb nie sê almal se liefling nie want ek het nog nooit vir hom ooghare gehad nie. Sy nekbesering kom seker ook van daardie rofstoei speelstyl wat HM so trots maak af. Ja daardie bal in die hand en probeer alles weg billdozer voor jou en wat SA rugby in ‘n penarie het. Laat hy maar sy triljoene oor die water gaan maak maar vergeet van hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.