’n Davids vervang ’n Davids in Blitsbokgroep

Selvyn Davids in aksie vir die Blitsbokke. Foto: Ben Stansall/AFP.

Die ervare Selvyn Davids is deur die Blitsbokbestuur vir die komende toernooi in Edmonton nadergetrek. Hy is in die plek van die vlugvoetige Angelo Davids wat sy hand in die afgelope Kanadese sewestoernooi beseer het.

“Dit is nooit lekker om iemand te vervang wat ’n besering opgedoen het nie. Ek kry vir Angelo jammer, veral ná so ’n goeie vertoning in Vancouver,” het Davids gesê.

Die beseerde speler het met sy tien drieë die rekord vir die meeste individuele drieë in Vancouver verbeter, terwyl hy ’n sleutelrol in die Blitsbokke se suksesvolle veldtog gespeel het.

Tog is Davids opgewonde om weer deel van die spanopset te wees, veral nadat hy self van ’n besering herstel het.

“Die ouens het goeie rugby die afgelope naweek gespeel en hulle sal met hierdie vertoning wil volhou.”

Die 27-jarige speler het al 409 punte in sy 20 toernooie in die kleure van die Blitsbokke aangeteken.

Die Suid-Afrikaners is ongetwyfeld weer die gunsteling om met die louere in Edmonton weg te stap. Hulle is saam met Mexiko, Kanada en Hongkong in Groep A.

Bepalings:

Blitsbokke teen Mexiko (Saterdag om 19:37)

Blitsbokke teen Hongkong (Saterdag om 22:48)

Blitsbokke teen Kanada (Sondag om 02:33)

Blitsbok-groep: Christie Grobbelaar, Ryan Oosthuizen, Sako Makata, Zain Davids, Selvyn Davids, JC Pretorius, Ronald Brown, Shaun Williams, Darren Adonis, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi, Muller du Plessis en James Murphy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.