’n Drieëfees in Kimberley

Chris Smith is as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: GB Jordaan.

Die Blou Bulle se Curriebeker-veldtog is weer op koers nadat hulle Griekwas met 53 – 27 in Kimberley geklop het.

Daar is altesaam 11 drieë in die wedstryd gedruk en al twee spanne het ’n bonuspunt vir hul driedruk-vaardighede verwerf.

Hoewel die tuisspan met ’n moedige vertoning vorendag gekom het, het die sterbelaaide span uit Pretoria uiteindelik net te veel skietgoed gehad en die besoekers het veral in die tweede helfte na ’n hoër rat geskakel.

Chris Smith – wat as die speler van die wedstryd aangewys is – was vir 18 punte verantwoordelik, terwyl hy met sy reuseskoppe gereeld die Griekwa-spelers onder druk geplaas het.

Dan het Kurt-Lee Arendse op sy goeie spelpeil van verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Zebre Parma voortgebou en hy was ’n doring in die tuisspan in die tuisspan se vlees.

Die samewerking tussen Arendse en die opwindende Canan Moodie was een van die redes vir die Bulle se sukses.

Tog kan Griekwas hulself ook ’n klop op die skouer gee.

Die manne van Kimberley het geweier om te hensop en hulle het veral in die eerste helfte vuur met vuur beveg.

Munier Hartzenberg en Luther Obi se uitstekende hanteerwerk het tot een van Zander du Plessis se drieë gelei, terwyl Hanru Sirgel ook met sy werkverrigting beïndruk het.

Die meerderheid van die Bul-span wat vandag in Kimberley uitgedraf het, kan waarskynlik volgende week teen Munster op Loftus Versfeld diens doen.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Simphiwe Matanzima, Cornal Hendricks, Walt Steenkamp, Arno Botha, Canan Moodie, Bismarck du Plessis en Keagan Johannes. Doelskoppe: Chris Smith (6). Strafskoppe: Smith (2).

Griekwas: Drieë: Zander du Plessis (2), Hanru Sirgel en Michael Amiras. Doelskoppe: Du Plessis (2). Skepskop: Fiela Boshoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.