ʼn Goeie geldskuif van die Sharks – en almal wen

Jacques Potgieter - terug in Pretoria (Foto sbs.com.au)

Jacques Potgieter – terug in Pretoria (Foto sbs.com.au)

Moenie dat ons dink dit gaan noodwendig finansieel voor die wind by die unies en die franchise’e nie.

Dit gaan alles om geld. Die Sharks se oë was groter as hul maag en die lang lys losvoorspelers het seker die geldkoffers kwaai geraak. En toe word twee toetsspelers van hulle ‘verkoop’ toe die Bulls voelers uitsteek.

Dis goeie rugbybesigheid.

By die Sharks is daar die Du Preez-tweeling Daniel en Jean-Luc, die Springbok en ervare kaptein Keegan Daniel, nog ʼn oud-kaptein en Springbok Jean Deysel, Phillip van der Walt en Lubabalo Mtembu wat die span in ʼn volle Curriebekerreeks gelei het.

Hulle het toe ook nog die yster van die Pumas en Namibië, Renaldo Bothma wat verlede jaar 15 keer vir die Sharks gespeel het op hulle boeke toe vanjaar se Superreeks afskop. “Maar die witkop was beseer en kon nie teen die ander geweeg word nie, en hy is paar weke gelede  Bulls toe – waar hy dusver ook nie weens sy besering kon speel nie.

Net so het die ‘Pirate’, soos Jacques Potgieter genoem word, weens ʼn besering nie by die KwaZulu-Natallers speelkans gekry nie. Hy het reeds toetsrugby vir die Springbokke gespeel.

Soos in Bothma se geval was dit ook duidelik dat Potgieter nie sommer in die top drie sou wees en speeltyd kry nie, en hy het toe ook dié week by die Bulls geteken.

Potgieter het natuurlik vir die Bulls gespeel toe hy Springbok geword het voor hy Japan en Waratahs toe is, en toe via Durban terugkeer het na Pretoria om naby sy verloofde, die aktrise Angelique Gerber, te wees.

Dit was op drie maniere ʼn wen-situasie. Twee spelers wat by die Sharks nie veel op die veld sou kon bydrae met die sestal wat voor hulle in die ry gestaan het nie, is nou nie meer gesalarieerde spelers van die kusspan nie. ʼn Wenpunt vir die Sharks se besparing.

En die Bulls kry twee uitstekende flanke, ʼn plus vir hulle, en die twee gaan speelkans kry – nóg ʼn plus.

♦  Die Bulls het ook begin kyk na aanstaande jaar. Die verlies van twee Springbok-vaskoppe, Werner Kruger wat  na 14 seisoene by die Bulls na Wallis vertrek om vir die Scarlets van Llanelli te speel, en Marcel van der Merwe wat ook oorsee gaan speel, gaan gewis ʼn leemte laat.

Jacobie Adriaanse, broer van die Sharks se Springbok Lourens, is nou ʼn Bul.

Hy is self ʼn man wat vir die Opkomende Bokke en ook twee jaar vir die SA o.19-span gespeel het. Hy het ook paar jaar se oorsese ondervinding, ondermeer vir Jake White se Montpellier, op sy CV.

♦ Die aankope is egter nie net goeie nuus vir die Bulls en Blou Bulle nie. Hulle aanvoerder in die 2015-Curriebekerreeks, die flank Lappies Labuschagne, is op pad Japan toe om heeltyds daar te gaan speel. Hy sal waarskynlik nie soos verlede jaar na die Japanse seisoen terugkeer en vir Superrugby beskikbaar wees nie

Labuschagne en die voormalige losskakel van die Bulls, Louis Fouché wat nou vir die Kings speel, sal in Japan vir die Kubota Spears uitdraf wat deur Frans Ludeke afgerig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.