`n Groot Boksege is ononderhandelbaar

Beast Mtawarira (Foto: GB Jordaan)

Beast Mtawarira (Foto: GB Jordaan)

Watter planne broei in Heyneke Meyer se kop vir Saterdag se belangrike toets teen Australië in die   Rugby Kampioenskapsreeks?

Meyer wil bitter graag die Rugbykampioenskap (die Viernasiesreeks, soos dit in die volksmond bekend staan), voor volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi wen en het aan die begin van die seisoen reeds verduidelik hoe belangrik dit vir hom is om vanjaar die Rugbykampioenskap te wen.

Die twee moeilike oorwinnings teen Argentinië kan nog verskoon word, want uit die All Blacks en Wallabies se wedstryde teen die Poemas was dit duidelik dat dié manne hardebaard gekry het en nie meer die melkkoei van die reeks is nie. Dit is egter die neerlaag teen die Aussies in Perth wat Meyer se beplanning régtig deurmekaargekrap het.

Die Bokke het ’n klein wonderwerk nodig om op 4 Oktober op Ellispark teen die All Blacks ’n kans te staan om nog vanjaar se kampioene te word.

Meyer is egter ’n man wat aan wonderwerke glo en het in sy loopbaan al die haas onmoontlike met sy spanne bereik. Hy sal beslis ’n plan hê om Saterdag se toets op Nuweland só te laat verloop dat, indien die wonderwerkie Sondagoggend (SA tyd) in die Estadio Ciudad in La Plata, Argentinië gebeur en die All Blacks dalk struikel, die Bokke ’n week later nie net in ’n toets van akademiese belang teen die All Blacks hoef te speel om die reeks te voltooi nie.

Daar is geen sin in vir Meyer en sy Bokspan om met ’n konserwatiewe poging net Saterdag se toets teen die Aussies te wen nie. Die Bokke het volpunte én ’n groot oorwinning nodig om die vlammetjie van hoop op die wonderwerk te laat aanhou brand. Die Bokke sal dus vroeg momentum moet bou en die Wallabies voorlangs moet vermorsel.

Meyer se span het beslis die vaste vyf om die grondslag te kan lê, veral as hul lynstaan- en skrumwerk twee weke gelede teen die All Blacks in ag geneem word. Hoewel hy nie die tegniek van die Aussie- en All Blacks se spesialiste het nie, sal Marcell Coetzee ook op huidige vorm lastig genoeg by die afbreekpunte kan wees om Michael Hooper besigte hou en selfs te neutraliseer. Oor Duanne Vermeulen se vermoëns hoef Suid-Afrika ook nie bekommerd te wees nie.

Die berekende risiko wat Meyer egter onder politieke druk moes neem om Oupa Mohojo in die beginspan in te sluit, kan ’n speek in die wiel van sy planne wees. Kan Mohojo vir die span doen wat Willem Alberts verlede jaar gedoen het toe die Bokke die Aussies twee keer maklik geklop het?

Maar natuurlik is Alberts in elk geval nie daar nie…

Dan bly die Bokke se agterlyn ook nog ’n rede tot kommer. Dit sal min help om die Wallabies  voorlangs te oordonder, maar agterlangs met verbeeldinglose spel die bal telkens dood te maak of om weer te sukkel om af te rond as die momentum daar is en geleenthede kom na vore.

Die Bokke het twee puik vleuels en ’n heelagter wat kán afrond. Die skeppende vermoëns van Hougaard, Pollard, De Villiers en Serfontein kan dus die verskil wees tussen nóg ’n verbroude kans en die vae moontlikheid om daardie wonderwerk te laat realiseer.

As Jean de Villiers en sy manne dié doelwit suksesvol kan jag, sal die hele Suid-Afrika ekstra vuurmaakhout en rooibostee koop om Saterdag laatnag die Poemas te kan aanpor tot hulle bydrae vir die moontlike wonderwerk. 

Spanne:

Suid-Afrika: 15.Willie le Roux, 14. Cornal Hendricks, 13. Jan Serfontein, 12. Jean de Villiers (kaptein), 11. Bryan Habana, 10. Handre Pollard, 9. Francois Hougaard, 8. Duane Vermeulen, 7. Teboho ‘Oupa” Mohoje, 6. Marcell Coetzee, 5. Victor Matfield, 4. Eben Etzebeth, 3. Jannie du Plessis, 2. Adriaan Strauss, 1. Tendai Mtawarira.
Bank: 16. Bismarck du Plessis, 17. Trevor Nyakane, 18. Marcell van der Merwe, 19. Bakkies Botha, 20. Schalk Burger, 21. Cobus Reinach, 22. Pat Lambie, 23. JP Pietersen.

Australië: 15. Israel Folau; 14. Adam Ashley-Cooper, 13. Tevita Kuridrani, 12. Matt Toomua, 11. Joe Tomane; 10. Bernard Foley, 9. Nick Phipps, 8. Ben McCalman, 7. Michael Hooper (kaptein), 6. Scott Fardy, 5. Rob Simmons, 4. Sam Carter; 3. Sekope Kepu, 2. Saia Fainga’a, 1. James Slipper.
Bank: 16. James Hanson, 17. Benn Robinson, 18. Ben Alexander, 19. James Horwill, 20. Scott Higginbotham, 21. Nic White, 22. Kurtley Beale, 23. Rob Horne.

Afskop: 17:05

Beamptes:

Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis)

Assistent skeidsregters: Wayne Barnes (Engeland), Mathieu Raynal (Frankryk)

TV skeidsregter: Graham Hughes (Engeland)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Om te sê “Die berekende risiko wat Meyer egter onder politieke druk moes neem om Oupa Mohojo in die beginspan in te sluit, kan ’n speek in die wiel van sy planne wees.” is rassisties. Oupa Mohojo is ‘n baie opwindende en talentvolle speler, kom ons kyk wat hy Saterdag doen dan praat ons weer.

Bertus ·

So, ons moet weer “mooi” verloor deur om rugby te speel volgens ons opponente se spelpatroon? Hardloop die bal ten alle koste? Dit het ons net mooi niks gehelp op Ellispark laas jaar. Die All Blacks smokkel met ons koppe.

Ek wen eerder lelik.

André Pool ·

Ek dink albei die bostaande reaksies sit die pot mis of verstaan nie die berig nie.

Hennie, jou beskuldiging van rassisme is ‘n oningeligte en bloot emosionele reaksie. Glo jy regtig Mohojo was in die Springbok groep op meriete? Verstaan tog mooi: Niemand sê hy is ‘n swak speler nie. Hy het baie potensiaal, maar onthou tog dat hy aanvanklik nie eers by die Cheetahs in die beginsspan was nie. Hy het sy kans weens die baie beserings aan losvoorspelers en slotte gekry. Is hy werklik beter as Warren Whitely en Willie Brits (Leeus) of Jacques du Plessis (Bulle) of Jean Deysel (oorsee) of Michael Rhodes (WP) of Renaldo Bothma (Pumas)? Dan noem ek net die manne wat as spesialis 7-flanke/lynstaanspesialis-losvoorspelers kan kwalifiseer en sluit ander puik losvoorspelers soos Derick Minnie, Jaco Kriel, Lappies Labuschagne ens uit!

Bertus, as ek jou reg verstaan sê jy die Bokke moet net wen, al is dit ‘n lelike wen? Jy verstaan blykbaar nie Pottie se argument nie. Hy skimp duidelik dat Meyer die kans gaan vat om sy span in ‘n posisie te bring waar hulle nog die beker kan wen volgende week.

Die verskil in ligapunte tussen die Bokke en die All Blacks is tans 6-punte (All Blacks = 16; Bokke = 10). As die Bokke dus volpunte teen die Aussies kry sal hulle 15 punte hê. As die Poemas selfs net daarin kan slaag om die All Blacks van ‘n bonuspunt te weerhou, sal hulle 20 hê. Dan ontstaan die situasie dat die Bokke die beker kan wen mits hulle in volgende week se wedstryd die All Blacks vier drieë kan druk, die Kiwi’s van enige bonuspunt weerhou én in die proses ‘n beter punteverskil op die puntelys as die Nieu-Seelanders kry.

Die All Blacks se punteverskil is tans +54, terwyl die Bokke s’n +4 is, dus ‘n verskil van 50 punte. As die All Blacks die Poemas wen, sal hul punteverskil groter word.

Die enigste manier waarop die Bokke dus in hierdie scenario die beker kan wen, is om die Aussies met ‘n reuse telling te wen om in te haal op daardie punteverskil agterstand van 50 punte! Pottie se redenasie van ‘n groot oorwinning teen die Wallabies maak dus sin.

Die “wonderwerk” waarvan hy praat is seker ‘n scenario waar die Poemas die All Blacks klop. Dit sal die hele situasie op sy kop omkeer en die Bokke se kanse verbeter. Probleem is net, die Bokke se wedstryd teen die Wallabies vind eerste plaas en met die verloop van die toernooi tot dusver en die Poemas se vertonings by die huis is dit nie so vergesog dat hulle dalk sal verloor (soos teen die Bokke), maar die All Blacks sal verhoed om vier drieë te druk nie. Dan sal die Bokke reg moet wees om hul kans te gryp en dit beteken hulle moet eerstens baie goed wen teen die Aussies!

Hennie ·

Andre’, wanneer dit by rugby kom sal ons, aanhangers van die spel altyd “beter” weet as die keurders van die span. Die berig egter, impliseer dat Mohoje nie goed genoeg is nie en dat hy slegs gekies is omdat hy swart is. Ek erken dat ek nie weet wat in die binnekringe van die spankeuses aangaan nie en in die’ opsig dalk oningelig is. Kom ons wag tot na die wedstryd en praat dan. Ek wil hê die Bokke moet wen dalk druk Mohoje ‘n drie soos wat hy gemaak het in die Cheetahs, Crusaders wedstryd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.