ʼn Hele paar Boere-Skotte pak die Bokke

WP Nel, vaskopstut van Skotland (Foto: Scottish Rugby)

Dit gaan goed met Skotse rugby as daar ses veranderinge is aan die span wat Fidji die naweek met 54-17 geklop het vir Saterdag se kragmeting teen die Springbokke op Murrayfield.

Die Skotte se span wemel van spelers met Suid-Afrikaanse verbintenisse, soos die vaskopstut WP Nel, die senter Huw Jones en die plaasvervangers, Allan Dell (stut) en Josh Strauss (agsteman).

Nel het vir die Westelike Provinsie, Boland en jare lank vir die Cheetahs gespeel. Jones was een van die Stormers se staatmaker-senters, Dell het vir Grens en die Sharks uitgedraf en Strauss was ʼn paar seisoene gelede nog die Lions se kaptein.

Sou een van hulle vir die Springbokke gespeel het as hulle nie na Skotland verhuis het nie? Ek weet darem nie.

Die skuiwe aan die span teen Fidji is, onder andere, dié van die onderkaptein Stuart McInally (haker) en die slot Jonny Gray, wat twee van die plaasvervangers was, maar wat nou weer na die uitdrafspan terugkeer.

Die veelsydige Sam Skinner, wat een van die slotte teen Fidji was, skuif flank toe om die Skotse pak meer woema teen die fisieke Springbokpak te gee.

Nel, die agsteman Ryan Wilson, en die regtervleuel Tommy Seymour, is die enigste spelers wat in drie agtereenvolgende toetswedstryde sal speel.

Die Skotte sal nie fisiek met die Bokke kan meeding nie, maar hul beweeglikheid kan daarvoor vergoed.

Hulle probeer die spel vinnig maak, baie soos van die Nieu-Seelandse Super-spanne in die Super-reeks. As dit boonop reën, koud en winderig is, word hulle nie daardeur beïnvloed nie en gedy hulle eerder daarin.

Die Skotte voer ook die basiese beginsels baie goed uit, wat deur oud-Nieu-Seelandse en -Suid-Afrikaanse afrigters, soos Dave Rennie (wat tans vir Glasgow afrig) en Alan Solomons tussen 2013-’16 ingedril is.

Dit het ook na die nasionale span begin oorwaai toe nóg ʼn oud-Nieu-Seelander, Vern Cotter, die nasionale span tussen 2014-’16 suksesvol afgerig het.

Dan het Gregor Townsend, vandat hy die leisels as afrigter geneem het, nuwe vaardighede agterlangs ingebring, iets wat die Skotte altyd ontbreek het.

Skotse span (toetse tussen hakies) ‒

15. Stuart Hogg (63), 14. Tommy Seymour (45), 13. Huw Jones (17), 12. Pete Horne (37), 11. Sean Maitland (35), 10. Finn Russell (38), 9. Greig Laidlaw (kaptein, 64), 8. Ryan Wilson (39), 7. Hamish Watson (21), 6. Sam Skinner (1), 5. Jonny Gray (45), 4. Ben Toolis (13), 3. WP Nel (24), 2. Stuart McInally (20), 1. Gordon Reid (32). Bank: 16. Fraser Brown (36), 17. Allan Dell (15), 18. Simon Berghan (12), 19. Josh Strauss (15), 20. Jamie Ritchie (4), 21. Ali Price (18), 22. Adam Hastings (5), 23. Chris Harris (5).

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Al my geld op die Skotte. Ek hoop en bid jul trap die bokkies. Bokkies moet dankie se v die ref vir die laaste game.

nico k ·

Ek stem saam met Wim, ek dink nie een van die spelers sou in elkgeval ooit vir die Springbokke gespeel het nie. Hulle was nooit so goed nie. Hierdie is een wat die Springbokke hopelik sal wen.

Al ·

Agv politiek sal nie een dit seker gemaak het nie. Op vermoeë sou Josh en miskien WP Nel goeie keuses gewees het. Hulle het ‘n punt om te bewys en gaan Saterdag “moeilik” wees op die veld.

Herman ·

Ek haal my hoed af vir Rassie vir wat hy tot dusver met die transformasiespan uitgerig het. Hy het al bewys in die verlede dat hy wel bloed uit ‘n klip kan tap. Ek kan egter nie ‘n transformasiespan met ‘n rein gewete ondersteun nie. Almal weet immers hierdie is nie ons beste span nie. My ondersteuning is Saterdag by die Skotte.

Derick ·

As gevolg van die kwota stelsel sal meer en meer wit spelers oorsee gaan speel.
So in 5 jr gaan die kwota ANC Bok span nog swakker raak.

Frans C ·

Buite die Suid Afrikaners is daar natuurlik nog Sean Maitland gewese Crusader en Canterburyspeler in die groep.Die feit dat daar so’n sterk NZ inslag by die Skotte en ander spanne is,bewys maar weereens dat die NZ-patroon nog steeds die beste en suksesvolste is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.