ʼn Kykie na die Varsitybekerspanne se kanse

splash-10jaarDaar is minstens vyf spanne wat ’n realistiese kans staan om as 2017-Varsitybekerkampioen gekroon te word. Die reeks skop Maandagaand af.

Kan die verdedigende kampioen, die NWU-Puk, hulle titel suksesvol verdedig, of gaan die Universiteit Stellenbosch dit voor hulle neuse wegraap? Verlede jaar was dit presies wat die Pukke met die Maties gedoen het.

En wat van die Universiteite van Pretoria en Johannesburg? Het hulle genoeg petrol in die tenk om die kroon te dra?

En gaan die 2015-kampioen, die Universiteit van die Vrystaat, weer soos in daardie gloriejaar alles voor hom wegvee en wen?

Hier is ʼn kykie na die onderskeie spanne en hulle kanse:

Universiteit Stellenbosch (Maties)

2016 se finalis het sedert die gloriejare van 2008-2011 toe dié span die kompetisie oorheers het, nog nie regtig weer gelyk na ’n span wat die uitklophou kan plant nie. Bygesê, hulle was onder Hawies Fourie se afrigting die beste span in verlede jaar se uitspeelrondes. Verlede jaar se eindstryd, toe die Pukke in beseringstyd die wenpunte aangeteken het, het hulle baie seergemaak.

Suid-Afrikaanse rugby het ’n sterk Matiespan broodnodig.

Voorspelling: Maties speel in die eindstryd.

Universiteit van Pretoria (Tukkies)

Pote Human is ’n afrigter wat sy ambag al wyd beoefen het. Dié voormalige afrigter van die Blou Bulle en Griekwas kon egter nog geen sukses met die Pretoriase studente behaal sedert hy in 2014 die leisels oorgeneem het nie. Daar is ’n selfvertroue in Pretoria dat vanjaar die jaar is.

Voorspelling: Tukkies speel in die eindstryd.

Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (Pukke)

Die verdedigende kampioen sal weer as een van die gunstelinge aantree. Net dalk was hulle oorwinning in 2016 die besef wat nodig was om te glo dat hulle kampioenmateriaal is.

Die verlies van brekers soos Sylvian Mahuza, Benhard Janse van Rensburg en Rhyno Smith sal deur die span gevoel word. Daarteenoor lei Jeandré Rudolph weer die span op die veld, iets wat in hulle guns tel. Hy weet presies wat dit verg om die trofee te lig.

Voorspelling: Pukke speel in halfeindstryd.

Universiteit van die Vrystaat (Shimlas)

Daar is ’n algehele rugby-oplewing in die Vrystaat, met die Cheetahs wat in 2016 die Curriebeker en die Griffons wat die Eerste Liga verower het.

Die Shimlas het verlede jaar goed begin, maar êrens die pad byster geraak en nie eens die uitspeelrondes gehaal het nie. Die Shimlas sal moet herbewys dat ’n uitstappie Bloemfontein toe nie ’n piekniek vir besoekende spanne is nie.

Voorspelling: Shimlas speel in halfeindstryd.

Universiteit van Johannesburg (UJ)

Werner Janse van Rensburg, afrigter van dié Johannesburgers, is ’n uitgeslape kalant met ’n rugbybrein op sy kop. Die UJ haal gewoonlik die halfeindstryd, maar dis sover as hulle vorder.

Kan Janse van Rensburg sy span oortuig dat hulle tot meer in staat is?

Voorspelling: Eindig algeheel vyfde.

Universiteit van die Witwatersrand (Wits)

Die span kan maklik met sy hertoelating tot die Varsitybeker, nadat hulle in 2015 en 2016 in die Skild-kompetisie gespeel het, die verrassing van die toernooi wees.

Wits sal moet wys hy het wat nodig is om saam met die groot honde te blaf. Met verskeie voormalige Cravenweeksterre wat vir die span beskikbaar is, is hoë verwagtinge nie vergesog nie.

Voorspelling: Eindig algeheel sesde

Sentraal Universiteit van Tegnologie (Ixias)

Die span het in 2016 meer as sy man gestaan, nadat die Ixias in 2015 die slaansak van die kompetisie was. Die voormalige Springbok Tiaan Liebenberg klap deesdae die sweep by ’n span wat glo hy kan die uitspeelrondes haal.

Voorspelling: Eindig algeheel sewende.

Universiteit van Kaapstad (Ikeys)

Die Varsitybeker-kompetisie kan jou laat sink of sweef.

Dít het die voormalige Springbok Hanyani Shimange, wat die span in 2016 afrig het, verlede jaar op die harde manier geleer toe dié span, wat in 2014 die kampioen was, amper gedelegeer is. Christiaan Esterhuizen is vanjaar die afrigter.

Voorspelling: Eindig algeheel agste

Nelson Mandela-Metropolitaanse Universiteit (Madibaz)

Die span, wat in 2013 en 2014 uiters mededingend was, het verlede jaar nie heeltemal aan die verwagtinge voldoen nie.

As gevolg van restourasiewerk aan hulle tuisstadion, sal die span vanjaar geen tuiswedstryde speel nie. Dit sal die span beslis negatief beïnvloed.

Voorspelling: Houtlepel.

Maandag se bepalings is

16:45 – Universiteit van die Witwatersrand vs Universiteit van die Vrystaat. (Regstreeks op SuperSport)
18:30 – Universiteit van Pretoria vs Universiteit Stellenbosch.
18:30 – Universiteit van die  Kaapstad vs Nelson Mandela Metropolitaanse-Universiteit.

19:00 – Universiteit van Johannesburg vs NWU-Pukke. (Regstreeks op SuperSport.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.