‘n Luisterapparaat lieg mos nie

Michael Cheika (Foto: ww1.skysports.com)

Michael Cheika (Foto: ww1.skysports.com)

Die hele storie is waar, die Wallabies het presies geweet wat die All Blacks sou doen in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in Sydney.

Dit was nog voor die afskop duidelik wat van die All Blacks verwag sou word. Gaan kyk maar na die video, van die Wallabies het presies geweet hoe die All Blacks die haka sou uitvoer.

Een of twee van die spelers kon skaars hul glimlagge bedwing, want hulle het geweet dat Kieran Reid voor in die V-formasie sou staan en dat Aaron Smith uit die tweede en derde ry die skreewerk sou doen. Toe Reid boonop op sy knie neersak en Julian Savea sy tong uitsteek, het die kamera vinnig in die rigting van die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, geswaai: dié ene was in die sakkie.

Met die afskop het die Wallabies presies geweet wat sou gebeur. Volgens die inligting wat sedert Maandag deur `n luisterapparaat, wat glo onder `n stoel in die Nieu-Seelanders se spankamer versteek was, sou die losskakel Beauden Barrett die bal in sy een hand vashou en met sy ander hand twee of drie vingers op die bal hou en dan 18 meter ver op Adam Ashley-Cooper sou inskop.

Met die eerste lynstaan was alles glashelder: die All Blacks sou die bal na een van die twee slotte, Brodie Retallick of Sam Whitelock, of die agtsteman, Kieran Reid, gooi. Met die eerste skrum het die Wallabies geweet dat die All Blacks se loskoptut, Wyatt Crockett, op die nat gras sou gly en dan na binne sou skrum voordat dit in duie gestort het.

Maar toe breek Matt Giteau sy enkel … dit was nooit in die teks nie. Ook nie toe sy plaasvervanger, Matt Toomua, harsingskudding opgedoen het en sý plaasvervange, Rob Horne, sy skouer ernstig beseer het nie.

Dit was ook nie in die teks dat die All Blacks met 42-8 sou wen nie, dat hulle ses drieë sou druk, dat Will Genia die bal sou aanslaan nie, dat Brendan Foley nie die bal sou uitskop nie, dat Tevita Kuridrani nie vir Ryan Crott kon vasvat nie, dat Ben McCalman en die res van sy spanmaats bottervingers gehad het en nie die mas sou opkom nie.

Dalk steek daar waarheid in die All Blacks se bewerings dat daar `n luistertoestel in die spankamer was, maar dit klink al hoe meer vir my na nog `n Suzie-wolhaarstorie toe die All Blacks kwansuis in 1995 voor die Wêreldbeker-eindstryd vergiftig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

As die storie waar is beteken dit dat of die Australiërs was nog swakker as die telling, of dit beteken bloot om ‘n span se planne te weet beteken nie baie nie. Almal weet hoe speel die All Blacks rugby. Jy moet nog steeds hulle planne kan keer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.