`n Ou agentjie sou nie onwelkom wees

Foto: incompass.co.za

Foto: incompass.co.za

Met dié dat Jannie en Bismarck du Plessis (en soveel ander van ons voorste spelers) die soveelste jaar ry, en dan weer bly, wonder ek mos of hulle almal werklik oorsee wil gaan speel.

Is dit nie eenvoudig`n geval dat van hierdie besluitelose spelers se agente bloot die lokaas uitgooi, die euro-teken voor hulle oë sien en op die ou einde beter kontrakte by hul tuisunies wil beding nie?

Dis niks nuut nie.

Jare gelede was daar `n blondekop-losskakel wat op elke span en unie se inkopielys was. As hy vandag nog gespeel het, glo ek hy sou Jonny Wilkinson en Dan Carter se kontrakte in die skadu gestel het. Dié man het geweet hoe om hom in die amateur-era te bemark en sy loopbaan en visioene te verbreed.

Tuks, Polisie, Noord-Transvaal, Rovigo en selfs in Amerikaanse voetbal.

Daar het nie `n jaar verbygegaan dat dieselfde voorbladberig nie op die voorblaaie van Beeld, Hoofstad, Die Vaderland en Die Transvaler verskyn het nie: Naas gaan  WP toe! En dan weer die jaar daarna.

Dit het `n gefladder in die Pretoria-duiwehok veroorsaak en ek is seker dat die koevertjies al hoe dikker onder die kopkussing geword het.

Dit was eintlik belaglik, want hy en baie ander legendes soos Frik, Piet en Mof en Danie Gerber moes miljoene verdien het!  So ook honderde ander spelers!

Dis húlle wat die stadions gevul het, maar jare daarna steeds self betaal vir gekrokte knieë, heupe, en skouers.

As ek terugdink, was daar maar bra min sportmanne wat hulle loopbane heeltyds kon beoefen: eintlik was dit maar net `n paar gholfspelers en hier en daar `n paar krieketspelers.

Selfs wêreldbokskampioene moes hul inkomste aanvul: Gerrie Coetzee het tande gemaak, Mike Holt het karre getimmer, Arnold Taylor het brood en koekies gebak, Kallie Knoetze was `n polisieman, Piet Crous het versekering verkoop.

Jan Wilkens, die Wildeman van die Kalahari en Vrystaat was boere, ondanks die feit dat hulle duisende mense na hul rofstoeigevegte gelok het.

Aan die krieketfront was Ali Bacher `n dokter, Jimmy Cook, Ray Jennings en Vince van der Bijl onderwysers, Clive Rice het in sy pa se onderneming gewerk en Spook Hanley het prentjies geteken.

Frik du Preez, Thys Lourens en Piston van Wyk was in die Lugmag: Piet Uys en Mof in die Polisie, Moaner van Heerden `n bewaarder, Uli Schmidt `n dokter,  Wynand Claassen `n argitek, Dawie de Villiers en Darius Botha het siele gered en Oeloff de Meyer  staan in die hof.

En só kan ons aangaan en aangaan.

Vra vir enigeen of hulle hul loopbane anders wou gehad het. Nee!

Maar dit sou darem baie lekker gewees het as `n agent namens hulle vir miljoene kon onderhandel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.