’n Passie vir die draadloos, rugby en Afrikaans

Simon Riekert en Johan Pretorius was in aksie by die onlangse Carltonbeker-eindstryd op Loftus Versfeld. Foto: Verskaf.

Baie mense se gunstelingrugbyherinneringe bestaan uit klankgrepe; grotendeels te danke aan die uitstekende radiokommentaarwerk van ’n Gerhard “Spiekeries” Viviers, ’n Niekie van den Berg of ’n Johan Rademan.

Maar soos wat die tye verander, word die radio se stem stiller terwyl die televisie se volume harder gedraai word.

Ja, dit is lekker om te sien hoe Cheslin Kolbe pypkan of hoe Duane Vermeulen sy teenstander platduik, maar wie sal ooit Spiekeries se opgewonde krete van “Sydie, Sydie!” vergeet toe Syd Nomis sy onderskepdrie teen die All Blacks in 1970 gedruk het?

Juis om dié rede droom Johan Pretorius en Simon Riekert daarvan om Afrikaanse radiorugbykommentaar weer terug in die huise van sportliefhebbers te kry.

Die duo – een ’n mediese verkoopskonsultant en die ander ’n regspraktisyn van beroep – het ’n passie vir die radio, rugby en Afrikaans.

Johan wou nog altyd ’n rugbykommentator op die draadloos gewees het. Die talent, kennis van die spel en dryfkrag was beslis teenwoordig, ervaring het egter tekort geskiet. En daarom het hy RadioRugby op die been gebring – ’n platform waar jy regstreeks na skole-, klub- en juniorrugbywedstryde kan luister.

Foto: Verskaf.

In 2019 het sy paaie met dié van Simon gekruis en sedertdien kleur hulle sportliefhebbers se wedstrydervaring met hul kommentatorwerk in.

“Ons vennootskap is net iets wat werk. As die ankerkommentator beskik Johan oor ’n aansteeklike energie, terwyl ek vir die ontleding sorg,” vertel Simon.

Nou in leketaal moet die ankerkommentator as’t ware die bal op die veld volg, terwyl die ontleder die spel meer in diepte bespreek.

Wanneer ’n klub of ’n skool hul dienste bespreek, begin hulle onmiddellik met hul voorbereidingswerk.

Waar was ’n speler op skool, hoeveel drieë het hy al gedruk, het hy vantevore Cravenweekrugby gespeel, wat is die korrekte manier om sy naam uit te spreek en baie ander dinge word sorgvuldig nagevors.

Ouers vergewe jou immers nie maklik as jy hul kind se naam verkeerd uitspreek nie!

Dan is artikulasie van groot belang, terwyl ’n uitsaaier se stemtoon by die aksie op die veld moet pas; jy wil nie ’n luisteraar aan die slaap sus wanneer die wendrie gedruk word nie.

Foto: Verskaf.

“Ons is baie trots op ons produksie en ons poog dat dit gehaltegewys vir niks terugstaan nie. Ons wil nie hê dat luisteraars ’n verskil tussen die aanlyn stroomproduksie en ’n groot radiostasie hoor nie.”

Daarom word korrekte en suiwer Afrikaans gebruik; jy sal nie sommer ooit hoor dat ’n speler die bal “uitgepass” het nie.

Hoewel uitsaairegte ’n stokkie voor hul kommentatorwerk by groot provinsiale en internasionale wedstryde steek, is dit steeds lekker om ’n doelwit te hê.

“My droom is om ’n Curriebekereindstryd tussen die Blou Bulle en die Westelike Provinsie voor ’n volgepakte Loftus Versfeld uit te saai. Soveel groot sportgebeurtenisse het al daar plaasgevind,” het Johan gesê.

Simon sal weer tydens ’n Springboktoets teen die All Blacks (enige plek in Nieu-Seeland) agter die mikrofoon wil inskuif.

Maar tans pak hulle elke skool- en klubkragmeting met dieselfde geesdrif en professionaliteit as daardie Curriebekereindstryd of All Blacks-toets aan.

En dit is sommer baie spiekeries, of hoe?

  • Klik hier vir die skakel na RadioRugby se Facebook-bladsy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.