ʼn Skepdoel in rugby is pure goud

De Wet Ras, kanonpoot. (Foto McLook collection)

Om ʼn skepdoel in rugby oor te klits, is een van daardie spesiale gawes wat jy nie sommer kan aanleer nie, jy word daarmee gebore.

Dit het die Franse Saterdag in Parys opnuut besef toe die Ierse losskakel, Johnny Sexton, die wenskepdoel  in die 84ste minuut van hul Sesnasiestoets  behaal het om die Iere met 15-13 te laat seëvier.

Vroeër het Wallis in Cardiff Skotland met 34-7 oorrompel om die kaarte in die reeks reeds vroeg te skommel.

Die Iere het heeltemal oorheers in Parys. Hulle het 68% gebiedsvoordeel en besit gehad en moes ver gewen het.

Maar die Franse was verrassend met 13-12 voor ná ʼn individualistiese drie in die 73ste minuut deur die vleuel Teddy Thomas.

Die horlosie het aangestap tot die 79ste minuut en die Franse was binne die Iere se kwartgebied.

Nog net een onderbreking en die Walliese skeidsregter Nigel Owens sou die eindfluitjie geblaas het.

Die Iere het besit verkry en die volgende drie minute ná 41 fases – ja, 41 fases met ʼn nat bal, want dit het liggies gereën, voordat Sexton aan die skrumskakel, Conor Murray geskree het om die bal te laat loop.

En toe … sy wenskepdoel van om en by 45 meter.

Suid-Afrika was die afgelope 68 jaar geseënd met losskakels wat skepdoele met reëlmaat deurgejaag het: Hansie Brewis, Gerald Bosch, Naas Botha, Jannie de Beer en Morné Steyn.

Hier en daar het ʼn skrumskakel, soos John Robbie, ook met ʼn skepdoel geslaag en wat was lekkerder om ʼn begaafde agtsteman soos die All Black Zinzan Brooke dit in ʼn toets te sien regkry?

Dit knak enige span, want al jou harde werk word binne ʼn oogwink onder jou uitgeruk.

Een van die langste (en onopgetekende skepdoele) is donkiejare gelede deur De Wet Ras behaal toe ons saam in die Lugmag was.

Hy was in ʼn ander eskader, en sy bevelvoerder/afrigter het die dominee van Harrismith se seun Wouter genoem. Dit was mos sy eerste naam en basta met sy noemnaam!

“Gee hom die bal, gee hom die bal,” het hy heeltyd geskree terwyl ons die tyd afgetel het.

Maar dit was anderkant hul tienmeterlyn en ons het nie gedink daar is enige kans vir ʼn skepdoel nie.

Maar toe gebeur dit. Wouter kry die bal net buite sy 22-meterlyn en laat waai.

Ons het die skop ná die wedstryd afgemeet, 73 meter, en het daardie aand geweet dat Wouter (De Wet) Ras Springbok sou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Fanie Meintjes ·

Omdat ek ‘n Vrystaat ondersteuner was het ek hom altyd as ‘n beter losskakel as Naas Botha gereken. Naas was wel ‘n westrydwenner maar as strateeg om sy agterlyn aanvalsruimte te gee, verdediging en lang doel- of strafskoppe was De Wet sy baas.

Joe Hall ·

Ag izzzzit,
Vertel bietjie hoeveel Curriebekers en internasionale wedstryde het De Wet Ras se losskakel spel vir die Vrystaat en/of die Springbokke oorwinnings verseker.

Danie Gerber en talle van Botha se agterspelers in Bloubul- en Springbokspanne kan getuig van die geleenthede wat Naas se losskakelspel vir hulle gebied het om die hoogtes te bereik waarvoor hulle bekendheid en welverdiende eer ontvang het.

Niklaas ·

Ons skool het jaarliks 2 wedstryde teen Harrismith gespeel en altyd verloor teen die span waar hy in was. Van laerskooldae af was hy n ster en almal het geteken hy gaan eendag Springbok word. Met sy laaaang skoppe was hy n heelagter se nagmerrie. Jammer vir hom dat hy in die Bosch en Naas Botha era gespeel het anders was hy meer in die Bokspan.

Nico K ·

Ek onthou dat daar ‘n pale-toe-skop kompetisie was waar De Wet Ras en Cliffie Brown vir Naas gewen het. Maar Naas se sterk punt was nooit sy pale toe skop nie. Sy taktiese skopwerk was yutstekend en dit is iets wat so min losskakels deesdae doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.