Superrugby: ʼn Saterdag vol onsekerheid

Wanneer die Sharks Saterdagoggend by die ontbyttafel aansit, sal hulle weet of hulle nog enige sê het in vanjaar se Superrugby-reeks.

Alle oë sal op Dunedin wees, en nie op die muesli, jogurt en vars vrugte voor hulle op die tafel nie. Want as die Rebels die Highlanders klop, of selfs ʼn bonuspunt kry as hulle sou verloor, sal die melk ook vir die Sharks suur wees.

Die Rebels (35 punte) is voor die Sharks (32) op die algehele puntelys (met dieselfde punteverskil van -15) en kan dus steeds by die agterdeur inglip om aanstaande week na alle waarskynlikheid in Christchurch teen die Crusaders te speel.

Maar as die Rebels verloor, kan die Sharks met groot verwagting ná Saterdagmiddag se kragmeting met die Jaguares op Kingspark (17:15) uitsien.

Ja, dan is hul lot in hul eie hande en kan hulle hul wisselvallige seisoen omkeer as hulle die septer teen die Jaguares swaai.

Klop die Sharks dán die Jaguares, sal hulle verby die Rebels skuif en kan hulle planne begin beraam om na Christchurch te reis. Dis nou nie iets om na uit te sien nie, maar darem baie, baie beter as om tuis voor die televisie te sit.

Alles het vroeër vandeesweek op ʼn maklike oorwinning vir die Highlanders gedui, maar toe besluit die afrigter, Aaron Mauger, om verskeie van sy All Black-sterre soos Ben Smith, Aaron Smith en Luke Whitelock en ook ander staatmakers te laat rus met die oog op ʼn uitspeelwedstryd teen die Lions (Ellispark) of Waratahs (Sydney) of Jaguares (Waikato).

Dit het die deur laat oopswaai vir die Rebels, maar nadat nie een van die Wallaby-beseerdes, Dane Haylett-Petty, Will Genia en Adam Coleman hul fiksheid kon bewys nie, moet die skaal weer in die guns van die Highlanders swaai.

As die Highlanders wen en hulle speel teen die Lions, vlieg hulle reeds Sondag na Johannesburg. Speel hulle teen die Waratahs, sal hulle die hele week in Dunedin bly en eers aan die einde van die week na Sydney reis. Speel hulle teen die Jaguares, is dit tuis.

♦ Die Lions sal oor ʼn vroeë middagete vanaf 11:35 die Waratahs se kragmeting met die Brumbies fyn dophou voordat hulle die Bulls (15:00) op Ellispark pak.

As die Waratahs (44 punte) wen, kan die Lions (41) nie bo hulle inskuif nie en kan ʼn moontlike halfeindstryd op Ellispark ook daarmee heen wees.

As die Lions Saterdag verloor kan hulle selfs vyfde of sesde eindig en dan moet hulle na Nieu-Seeland reis.

Die Lions behoort darem die Bulls te klop, want om met ʼn groentjie-skakelpaar in Manie Libbok en Ivan van Zyl op te draf, ’n flank (Jannes Kirsten) op slot te kies, ʼn nuwe kaptein (RG Snyman) aan te wys en relatiewe onbekendes soos Johan Grobbelaar, Matthys Basson, Mornay Smit, Ruan Nortjé en Boeta Hamman op die bank te hê teen ʼn span met 11 Springbokke in die uitdrafspan, is darem baie gevra.

Enige voorspellings?

Hou meer liewer die geldjies veilig in die sak, want daar is soveel vrae en permutasies, en so min antwoorde.

Saterdag se bepalings:

09:35: Highlanders teen Rebels (Dunedin).
11:35: Waratahs teen Brumbies (Sydney).
15:00: Lions teen Bulls (Johannesburg).
17:15: Sharks teen Jaguares (Durban).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.