ʼn Superrugby-eindstryd vol gebreke

Franco Mostert word hier deur Israel Folau in die lug geklop na ʼn hoë skop. (Foto GB Jordaan)

Wanneer twee spanne in die eindstryd van enige reeks speel, verwag jy ʼn mededingende tweestryd ‒ behalwe wanneer dit in die Superrugbyreeks is.

Só lyk dit op die oog af nadat die Lions Saterdag op Ellispark die Waratahs met 44-26 in die tweede halfeindstryd geklop het nadat die Crusaders die Hurricanes vroeër in Christchurch met 30-12 getroef het.

Die Crusaders bied met reg die eindstryd aan, aangesien hulle bo die Lions op die algehele puntelys in die groepronde geëindig het en ongetwyfeld die beste vertoningslys in die reeks gehandhaaf het.

Die Lions het ook hul reg deur en deur verdien, al kla baie Nieu-Seelanders oor ʼn gebrekkige puntestelsel.

Wat lê voor vir die Lions? Hulle moet binne ʼn week die lang reis Nieu-Seeland (van wes na oos) aandurf. Hulle sal skaars ordentlik kan voorberei (nie dat ʼn mens dié tyd van die seisoen enigiets kan leer nie), sal die uitwerking van vlugflouheid moet oorkom (al vlieg hulle in besigheidsklas), en in die yskoue Christchurch die amperse All Blacks-span voor hul tuisondersteuners moet klop.

As ʼn mens die rekordboeke naslaan, is die Lions se kanse baie skraal, hoewel die Crusaders dit verlede jaar reggekry het om weg van die huis af te wen toe hulle die Lions op Ellispark met 25-17 geklop het.

ʼn Mens wonder steeds wat sou gebeur het as Kwagga Smith nie die trekpas gekry het nie, want dit het die skaal in die Crusaders se guns geswaai.

Ironies genoeg is dit die eerste keer sedert 2008 (tien jaar gelede) dat die Crusaders tuis in ʼn eindstryd speel, hoewel hulle die reeks reeds agt keer sedert 1996 gewen het nadat hulle in 12 eindstryde betrokke was.

Vergelyk dit met die Lions, wat nog net in twee eindstryde (in 2016 en 2017) betrokke was, maar albei verloor het.

ʼn Mens sou dink dat dit ook ʼn groot finansiële meevaller vir die Crusaders gaan wees. Maar dit is nie so nie, omdat Christchurch se tydelike stadion net 22 500 toeskouers kan huisves ná die aardbewing, wat in 2011 die ou Lancasterpark sodanig beskadig het dat dit nou afgebreek gaan word.

Kaartjiepryse vir die eindstryd beloop gemiddeld 60 Nieu-Seelandse dollar (sowat R536) en die hek-inkomste uit die eindstryd sal die Crusaders se koffers met sowat 1,3 miljoen Nieu-Seelandse dollar (sowat R11,6 m) laat bult.

Maar dan moet die Crusaders die Lions 125 000 Nieu-Seelandse dollar (sowat R1,25 m) betaal omdat hulle in die eindstryd speel.

Dit het ook nie veel gehelp dat die Crusaders (en die Lions) die kwarteind- en halfeindstryde aangebied het nie. Dit was ook nie groot finansiële meevallers nie, want die stadions was nie vol nie en hulle moes toe ook die besoekende spanne betaal, hoewel dit minder was as vir die eindstryd.

Is toeskouers se bywoning nie een van die redes waarom eindstryde in Europa op neutrale velde aangebied word wat deur 60 000 en meer toeskouers bygewoon word nie?

Aan die ander kant, as die Australiërs nie eens hul eie Superrugby-spanne ondersteun nie, hoeveel toeskouers sal na ʼn eindstryd in Sydney of Brisbane gaan kyk wanneer die Crusaders teen die Lions speel?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

IK ·

Hier in SA sal eerder die dolos gegooi word om die uitslag te bepaal. Eg Afrika. Hoor ek geluide of . . . ?

Paul ·

IK, ek lees vanoggend, betreffende krieket, Faf, die Protea kaptein, beduie dat hulle eerder groei as om te wen.

Kruger ·

Ja nee as Faf, Philander en kie nie kan ball tamper nie, sukkel ons maar om te swaai.

Oudste ·

Gegewe al die kommentaar alreeds gelewer oor die Leeus en die kommentaar wat nog gaan volg net dit: Die Leeus kan nie slegter as TWEEDE in die Super Rugby reeks kom nie, vir die derde agtereenvolgende jaar, en dus EERSTE in die SA konferensie ook vir die derde agtereenvolgende jaar. Vir die ander sogenaamde “Elite Franchises”, net die volgende kommentaar: Sit dit in julle se pype en rook dit. Rassie, ek verstaan nie.

Pierre ·

Oudste, kalm bly. Sportspanne het maar hul goeie en minder goeie jare. Kyk maar die Leeus wat ‘n paar seisoene gelede nie eers in die kompetisie was nie en die Bulle wat vannaar feitlik laaste geeindig het maar sterds die enigste SA span wat die kompetisie kon wen , en sommer 3 keer!
Hoop die Leeus gee die ‘saders Saterdag gas.

Valerie ·

Snaaks dat die All Black spanne nooit voor die tyd of na die tyd verskonings maak nie. G’n wonder baie Suid-Afrikaners is maar afgunstig teenoor die ware rugby manne nie.

Joe Hall ·

Wonder of die NZ se ‘ware rugby manne’ nog so gaaf sal wees wanneer hulle aan die verloorkant is omdat ‘n kwotastelsel vereis dat elke AB span slegs een speler mag insluit wat nie in NZ gebore is nie.

Wesley ·

Ja “Suzie” en Wayne Barnes en SBW se rooi kaart en en en en en….. Dit nie afgunstigheid nie Valerie, alle eer aan die manne, maar alle mense is maar realisties tot hul siening en omstandighede van dinge. Ons almal is skuldig daaraan.

Wesley ·

Joe Hall, meeste van hul spelers is in NZ gebore. Die waarheid is eintlik andersom, dat eilandse spanne om hul soos Tonga en Samoa die NZ gebore spelers gebruik oor hul voorouers se afkomstigheid. NZ is nie die “europese” land wat almal voorgee nie.

KRKiwi ·

Stem saam Valerie, Saffas maak nog al die jare verskoning vir as hul sou verloor komende naweek, Saterdag aand hoor ons weer hoe dit die ref was en jetlag en kwotas en en en.

Wesley ·

Alhoewel kanse skraal is vir n wen, kan ons innig trots wees op die Leeus. Almal het gedink dit is die einde vir hul na Ackerman. Ja die punteleer is maar n geboender maar soos Swys altyd se, jy speel wat voor jou is. Daar is goeie uitsiening in die span wat ander spanne asook ons as SAnse ondersteurs kan leer. Daar is nog trots in hoe jy die spel speel en wen is belangrik maar ook nie als nie. Jy speel vir die eer en teen die Crusaders is dit een grote. Die manne moet dit gaan geniet en n paar biere op hulself klink na die wedstyd, maak nie saak van uitkoms nie. Die genot wat Leeus rugby bring met hul manier van spel is defnitief vermaaklik en hoop al verloor hul spelers deur die loop van tyd sal hul nie daai uitsiening en passie verloor nie.

Will ·

Jaco Pyper se rooi kaart verlede jaar het ‘n klug van die eindstryd gemaak. Geen wonder toeskouers verloor belangstelling nie. Dit was ‘n jammerlike anti-klimaks na ‘n seisoen vol belofte vir die Lions.

Otter ·

Die Leeus ondersteuning kan maar se wat hulle wil maar feite is feite. Indien die punte stelsel reg toegepas was waar die spanne in volgorde van hulle punte finaal ingedeel word sou die Leeus 4de en Waratahs 5de gewees het dus sou hulle nie tuis wedstryde gehad het nie maar wel die Chiefs en Hurricans. Die Leeus of die Waratahs sou nie die Chiefs of Hurricans op hul tuisvelde geklop het nie. Die Crusaders moes dus teen die sterkste spanne uitgespeel het. So hou maar Saterdag se slagting dop.

Judge Dredd ·

En feite is feite – dat die ander SA spanne nog vrotter gevaar het jammer hoor.

Callie ·

Suid Afrika was daardie tyd die oorsaak daarvan dat die konferensie wenners ongeag hul punte in die groep nou in die uitspeel betrokke is. Die jaar wat daar 3 SA spanne in die uitspeel was het almal laat kla en die volgende jaar was die konferensie stelsel ingebring. So nou kan niemand kla as hulle punte hoer is as n konferensie wenner en hulle moet toer nie. Veroorsaak net dat krag nie meer teen krag meeding nie. In SA weet ons wat is die effek daarvan op ons rugby

Genieve ·

Ek wag maar vir Saterdag want die Lions moet alles insit vir 80min.

DS ·

Nerens op daai bekers word die verloorspan se naam gegrafeer nie – so spel om te wen of bly by die huis. Tweede is nie goed genoeg nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.