ʼn Taai toer wag op rugbymoeë Bokke

Eben Etzebeth – groot eise aan sy spelers. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke se jaareindtoer is nie ʼn sommerso-toer nie. Dit sal uithaal kos, want al vier die teenstanders kan op hul goeie dag teen die Bokke wen.

Die Bokke sal nie sommer al vier die wedstryde, teen Ierland, Frankryk, Italië en Wallis, verloor nie, maar al vier die teenstanders kan op hul goeie dag teen die Bokke wen.

Vir Allister Coetzee, die Bokke se afrigter, is dit egter belangrik dat sy span darem drie van die vier wen. Sy wenpersentasie vanjaar, 55,5 % (vyf wenne uit nege wedstryde) is miskien nie so sleg soos verlede jaar se 33,3% nie, maar is allermins aanvaarbaar.

Wen die Bokke drie, staan Coetzee op 61,5% vir vanjaar; en ook dít is heelwat onder die 67% wat oor 126 jaar deur die Springbokke aangeteken is. Dit mag :dalkies net sy loopbaan red.

Dit is nou vyf toetse sedert die Springbokke laas as die wenner van die veld gestap het nadat hulle vanjaar twee keer teen die Poemas die eerste twee Rugbykampioenskap-toetse gewen het, daarna twee keer teen die All Blacks verloor en ook twee keer teen die Wallabies gelykop gespeel het.

Ierland sal ongetwyfeld die Springbokke se moeilikste teenstander wees. Dit is ongelukkig (of is dit gelukkig?) ook die eerste wedstryde en word aanstaande Saterdag (11 November) in Dublin gespeel.

Gelukkig?

Ja, want die Bokke is vanjaar al voos gespeel. En hoe langer hierdie jaareindtoer aanhou, hoe erger gaan dit word. Die swaarder velde, maak nie saak hoe fiks die Bokke is nie, sal ook hul tol eis. Dis ʼn kop-ding.

Kry die vernaamste teenstander agter die rug.

Franco Mostert – ʼn sprekende bewys van wat rugby-uitputting kan doen (Foto: GB Jordaan)

Is dit ʼn oordrywing? Nee. Van die manne het sedert middel Februarie reeds nege toetse agter die rug, 15 Superwedstryde, opwarmwedstryde… en hulle kan nie anders as rugbymoeg wees nie. Kyk maar hoe het Franco Mostert van uitblinker tot saamdrawwer uitgesak weens te veel rugby.

Onthou, in die professionele era oefen die spelers vier volle weeksdae, speel feitlik elke naweek, en woon oefenkampe vir hulle franchise’e en die internasionale spanne by.

Wanneer hulle nie op die veld is nie, is daar tegniese besprekings, mediese toetse, fiksheidstoetse … en dit geld vir al die groot rugbylande.

Dit is rugby, rugby en nogmaals rugby, op en af van die veld en oefenveld.

Ierland se spelers is nog vars. Hulle het eers in Augustus en September begin speel. Ongelukkig sukkel die Springbokke die afgelope jare in Ierland waar hulle vier van hulle laaste ses toetse verloor het. Ierland het boonop die wete dat hulle die All Blacks verlede jaar in Chicago geklop en vanjaar met Engeland afgereken het.

♦  Wat Frankryk betref, is die geskiedenis ook nie aan die Springbokke se kant nie. Vier uit die laaste vyf wedstryde teen die Franse op hulle tuisvelde is deur die Hane gewen.

♦  Italië het verlede jaar verras toe hulle die heel eerste keer ooit teen die Bokke gewen het. Hulle het vanjaar ʼn nuwe afrigter, Conor O’Shea, en die span wat hy gekies het, bevat heelwat nuwe bloed.

Verlede jaar het Italië die hulp van Brendan Venter gehad en die Bokke geklop. Hy is steeds hulle verdedigingskonsultant, maar het besluit om nie die tuisspan vir hulle wedstryd teen die Bokke by te staan nie.

♦  Wallis het in 1999 die eerste oorwinning sedert 1906 teen die Springbokke gewen. Nou is daar nog drie seges bygevoeg en het hulle darem vier uit die 32 kragmetings gewen.

Die laaste van hierdie vier oorwinnings was verlede jaar, toe Wallis die grootste oorwinning nóg teen die Springbokke behaal het. Vanjaar takel die Bokke hulle met Elton Jantjies, Franco Mostert en Francois Louw wat nie sal kan speel nie, omdat hulle dan by hul oorsese klubs moet terug wees omdat hierdie toets buite die toetsvenster val.

♦  Hoeveel van die vier toetse gaan die Bokke wen? Dit kan vier wees, en selfs, hoewel onwaarskynlik, nul.

Drie wenne sal straks vir Coetzee kan red. Minder as dit sal die druk op hom laat toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Die ou vodde verskoning (voor die toer nogal) van die bokke wat glo “moeg” is raak darem al afgesaag. Dit is waarom ‘n goeie afrigter en keurders die spelers wat in vorm is uit die groter poel spelers moet kies en afrig om as span te speel.
Ongelukkig is die professionele era ‘n harde skool en as dit jou beroep is moet jy fisies en geestelik daartoe in staat wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.