ʼn Toetsrugbyfees tussen die wêreld se bestes dié naweek

ʼn Toetsnaweek soos min lê voor met die voorste 16 lande ter wêreld en ook Rusland en Kanada wat Saterdag en Sondag teen mekaar te staan kom.

Benewens die drie toetse waarby Nieu-Seeland en Australië betrokke is, en die Springbokke se toets teen Engeland wat elders bespreek word, speel die vierde lid van die Sanzaar-lande, Argentinië, ook Saterdag in een van die ander ses toetse.

♦ Die Wallabies, wat op Supervlak vanjaar ietwat beter as verlede jaar vertoon, het op die oog af ʼn gedugte span gekies om met Ierland, tweede op die wêreldranglys, kragte te meet. Die Iere is, soos voorverlede jaar op hul toer na Suid-Afrika, ook nie heeltemal op volsterkte nie, maar behoort nogtans net-net te veel skietgoed vir die Wallabies, wat nommer vier ter wêreld is, te hê.

♦ Die All Blacks het 40 toetse laas op Edenpark verloor. Dit was teen Frankryk in 1994 (ja, 1994!). ʼn Mens kan nie dink hoe die Franse, hoewel hulle beter is as verlede jaar op hul sukkeltoer deur Suid-Afrika, die All Blacks sal kan vasvat, om van wen nie eers te praat nie.

Dié toets tussen die wêreld se beste en agste beste is trouens die grootste rangorde-gaping van die naweek.

♦ Die Poemas, hoofsaaklik saamgestel uit die spelers van die Jaguares wat hul laaste vyf wedstryde in die Superreeks gewen het, kom in Buenos Aires teen Wallis te staan.

Dit is juis hierdie kragmeting wat by rugbyondersteuners in Suid-Afrika meer aftrek as die ander sal kry. Dit sal ook ʼn lekker interessante wedstryd wees met die Poemas wat. kragte meet teen die span wat drie plekke beter daaraan toe is.

Die Jaguares het vanjaar reeds drie van Suid-Afrika se vier Superrugby-franchise’e in Argentinië geklop, en Wallis het verlede naweek die Springbokke in Washington bloedneus gegee. Hoewel albei lande Saterdag met ander spanne as die bekende Jaguares en die Walliesers van Washington op die veld sal draf, sal vergelykings seker graag in Suid-Afrika getref word.

♦ Japan speel tuis teen Italië, met die Suid-Afrikaner Wimpie van der Walt wat saam met ʼn paar Suidsee-spelers die nie-Japanners in die opdrafspan is.

♦ Sal Tonga mans genoeg vir Georgië wees? En hoe sal Fidji en Samoa vaar wat steeds gereeld spelers nie net aan Australasiese spanne moet afstaan nie, maar ook deur die Europese lande leeggekoop word?

♦ ʼn Erg verswakte Skotland speel teen Kanada wat vanjaar nie waffers is nie, en Amerika behoort te sterk vir Rusland te wees.

Die naweek se wedstryde, wat uiteraard nie almal uitgesaai word nie, word hieronder aangegee, met die onderskeie lande se posisie op Wêreldrugby se huidige amptelike ranglys in hakies langs hul name.

Die wedstryde met afskoptye ‒

Saterdag
02:00 ‒ Fidji (10) vs Samoa (16).
05:00 ‒ Tonga (13) vs Georgië (12).
07:45 ‒ Japan (11) vs Italië (14).
09:35 ‒ Nieu-Seeland (1) vs Frankryk (8).
12:05 ‒ Australië (4) vs Ierland (2).
17:05 ‒ Suid-Afrika (7) vs Engeland (3).
21:00 ‒ Argentinië (9) vs Wallis (6).
23:00 ‒ VSA (15) vs Rusland (19).

Sondag
03:00 ‒ Kanada (21) vs Skotland (6).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Wim, die opskrif van die artikel is ‘n valse voorstelling van die inhoud daarvan. ‘Die wêreld se bestes’ en die Springbokke kan nie in een asem genoem word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.