`n Vuil uil kan hom ook regruk

Die berugte skoppery. (Foto: YouTube)

Die berugte skoppery. (Foto: YouTube)

Die Argentynse stut Cipriano Martinez is Woensdag vir 29 jaar geskors nadat hy `n teenstander in `n  klubwedstryd op 2 April teen die kop geskop het.

Die Buenos Aires-rugbyunie het nog nie die skorsing amptelik bekend gemaak nie, maar Eduardo Bernadello, die voorsitter van die Pucara-klub vir wie Martinez speel, het bevestig dat Martinez vir 1 508 weke, oftewel 29 jaar, geskors is – en dat hy daarmee saamstem.

As Martinez 30 jaar oud is, sal hy eers weer kan speel as hy 59 jaar oud is, met ander woorde, hy sal lewenslank nooit weer mag speel nie.

Ek het na die voorval op die internet gekyk (https://www.youtube.com/watch?v=EeY6v5WDWAs) – dit maak jou siek, want Juan Masi, die slot van San Albano, was nie naby aan die bal nie, op sy hande en sy knieë toe Martinez hom oop en bloot teen die kop geskop het. Dit was `n oomblik van waansin wat op geen rugbyveld hoort en geduld mag word nie.

Chris Jones (Foto: Wales Online)

Chris Jones (Foto: Wales Online)

Dit bring my uit by die wonderlike verhaal van Chris Jones, `n gewese stut van Treorchy in Wallis, wat twee keer lewenslank geskors is oor vuilspel.

Jones was baie wild in sy speeldae, hy is as `n  psigopaat bestempel en het selfs ‘n byl in sy toksak gehad.

Jones het niks daarvan gedink om sy teenstanders te skop, op hulle te trap, en het hom ook aan oogkrappry skuldig gemaak wanneer hy buite beheer geraak het. Maar volgens Wales on Line het Jones sy lewe drasties omgekeer terwyl hy in die poliseselle in Brecon was.

Hy het homself bekeer, op afrigting toegespits en een van die beste skoleafrigters in Wallis geword. Hy het die Dewar-skild (een van Wallis se top skolereekse) nege keer gewen. Verskeie spelers het onder sy hande ontwikkel en selfs vir Wallis gespeel.

Nog `n vuil uil, Michel Palmie van Frankryk, het ook wye draaie in sy loopbaan geloop.

Michel Palmie (Foto: club.quomodo.com)

Michel Palmie (Foto: club.quomodo.com)

Hy het `n paar toetse vir die Hane gespeel en het ook in 1975 ook teen die Bokke gespeel.

In sy speeldae is daar na hom verwys as `n speler wat van Parys na Toulouse sy weg oopgelaan, geskop en in teenstanders se oë gekrap het.

Die gewese Britse Leeus-haker Bobby Windsor, wat self nie `n engeltjie was nie, het Palmie as die hardste (en vuilste speler) beskryf wat hy teëgekom het.

“Hy het enigiemand te eniger tyd geskop. Hy het net seker gemaak dat hy uit die visier van die skeidsregter was en dan … boem,” het Windsor Palmie beskryf.

Palmie het vir Beziers gespeel en sy loopbaan het in 1978 tot `n einde gekom toe hy lewenslank gekors is nadat hy Armand Clerc geslaan het – wat Clerc blind in sy een oog gelaat het.

Palmie het homself ook reggeruk en was jarelank `n lid van die Franse Rugbyfederasie (FRR).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.