Na 40 jaar steeds agter die rugby-mikrofoon

Hugh Bladen

Hugh Bladen

Op 31 Julie was dit presies 40 jaar sedert Hugh Bladen sy eerste tree as rugbykommentator gegee het en vandag, na 160 Springboktoetse, 27 Curriebeker-eindstryde, 20 ‘ander’ toetse en te veel Superrugbywedstryde om te tel, is hy steeds aan die gang.

Smaak verskil uiteraard, maar die voormalige Junior Springbok van Transvaal se ikoniese stem en unieke manier om die spel te beskryf, is aan TV-kykers dwarsdeur die rugbywêreld bekend en hy word allerweë as een van die grotes agter die rugbymikrofoon erken.

En in Suid-Afrika ís hy die beste. Eintlik verreweg so.

Vier meningspeilings op (verskillende) gesiene rugby-webwerwe die afgelope vier jaar het onteenseglik aangedui Hugh Bladen is luisteraars se gunsteling kommentator, in Afrikaans óf Engels. Hy het in al vier hierdie peilings, waarin sowat 25 rugby-uitsaaiers gelys is, meer as ʼn derde van die stemme gekry, met die tweede gewildstes elke keer onder 18%.

Bladen was ʼn negejarige tjokkertjie met sy eerste besoek aan Ellispark. Transvaal het teen die 1953-Wallabies gespeel. So tussen die bierblikke en nartjieskille deur, het Bladen tóé al besluit hy sál eendag op die veld speel.

Hy het rugby amper ʼn leeftyd lank gedien en op verskeie vlakke in die spel teruggeploeg. Hy was as jong speler kaptein van KES en ook van Transvaal se o.20s. Hy het ook vir die Junior Springbokke, in die Springbok-proewe en tot 1971 vir Transvaal gespeel, maar het toe op 26 ʼn ander koers ingeslaan.

Die volgende vier jaar was Bladen se aandag by die familie se juweliersonderneming en sy rol as eggenoot en vader. Rugby was egter steeds ʼn groot trekpleister. Hy het weer by Transvaal in ʼn administratiewe rol betrokke geraak en ook as Transvaalse keurder, sameroeper van die keurkomitee, op die raad van Ellispark (Edms) Beperk en uiteindelik as visepresident van die Transvaalse Rugbyunie gedien.

Bladen se werk as rugbykommentator het aan hom die ideale platform gegee om sy liefde vir die spel uit te leef.

Sy natuurlike charisma, ontspanne styl en warmte het die oog van ʼn televisienetwerk gevang. M-Net Sport, nou Supersport, was op soek na ʼn Engelse sportman wat provinsiale rugby gespeel het om hul program aan te bied en bykomende menings te gee. Bladen het die uitdaging aanvaar en is onmiddellik deur ʼn vuurdoop, met ʼn wedstryd tussen die 1976 All Blacks en Transvaal op 31 Julie 1976. Dit was die begin van sy luisterryke loopbaan as rugbykommentator.

Voor elke wedstryd bestudeer Bladen rugbyjaarboeke en notas wat hy deur die jare gemaak het. Hy kyk na feite en statistieke en ander inligting oor die wedstryd en die spelers. Hierdie kennis, so glo hy, verryk die kykers se ervaring wanneer hy vir hulle ʼn wyer konteks en interessante inligting gee.

Bladen is ʼn welberese man. Hy was saam met die Springbokke Frankryk, Engeland, Australië, Argentinië, Nieu-Seeland, Skotland, Wallis, Ierland en Italië toe. Die 2007 Wêreldbeker-eindstryd was vir Hugh Bladen ʼn hoogtepunt in sy loopbaan.

Sy lewe is verryk deur sy liefde vir sy vrou, Bronwyn en sy gesin. Bronwyn het hom deur ʼn baie moeilike tyd ondersteun en gedra nadat hy uit ʼn gebou geval het en baie ernstig beseer is. Sy het hom letterlik gedwing om weer te loop en hy praat met die hoogste agting van sy vrou.

Bladen ontken hy is ʼn legende en erken hy het steeds sweterige hande voor elke wedstryd omdat hy gespanne is en steeds ʼn groot liefde het vir wat hy doen. En ʼn mens kan dit aan sy entoesiasme agterkom …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gwen ·

Hoor, hoor. Probeer nou iemand soos Derick Hougaard met Bladen vergelyk. Swak verby.

Johannes ·

Ek hy is beste in SA van die kommentators.Afrikaans en Engels.

Garath ·

Hugh verdien elke stukkie erkenning en eer wat hom toekom. Hy is ‘n grote.

Karma ·

O, daardie man het die mees irriterende stemtoon. As hy of Joel Stransky aan’t kommentaar lewer is, skakel ek dadelik oor na die Afrikaanse kommentaar. Stransky het ‘n skerp nasale klank aan sy stem en Bladen wissel nie sy stemtoon af nie.

Sydney ·

Moenie kritiseer as julle nie na julle stemme self geluister het nie. Julle sal skrik wat julle hoor nadat julle self ‘n stem opname gedoen het, oor julle manier van praat. Niemand het gevra vir sy of haar stem nie. teminste maak die kommentators geld daarmee……. :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.