Ná WB-teleurstelling wil Coetzee brul teen Britse Leeus

Marcell Coetzee tydens ’n Springbok-oefensessie vroeër op Loftus Versfeld. Foto: GB Jordaan.

Nadat hy sy tweede agtereenvolgende Wêreldbekerrugbytoernooi weens ’n besering misgeloop het, wil Marcell Coetzee sy Springbokstempel teen die Britse en Ierse Leeus in 2021 afdruk.

Rassie Erasmus het vroeër vanjaar vir Coetzee die geleentheid gegun om sy kleim in die Bokke se Wêreldbekerspan af te steek, maar hy het harsingskudding in die laaste opwarmingswedstryd teen Argentinië op Loftus Versfeld opgedoen en later is ook bevestig dat ’n enkelbesering hom op die kantlyn sou hou.

In 2015 moes Coetzee ook weens beserings die Wêreldbekertoernooi misloop.

“Ek was uiters teleurgesteld. Die wedstryd teen Argentinië was ’n kans om myself te bewys, maar ongelukkig het dinge hoegenaamd nie reg geloop nie. Die harsingskudding en die enkelbesering was ’n baie bitter pil om te sluk,” het Coetzee gesê.

“Maar op die ou einde moet jy besluit – gaan jy net lê, of gaan jy terugbaklei? Hoewel dit aanvanklik baie moeilik was, genees tyd alle wonde. Ek het besluit dat ek net sterker as ooit vantevore sal terugkom.”

Volgens Coetzee is die grootste ding wat beserings hom geleer het dat hy baie geseënd is om rugby te kan speel en dat hy elke sekonde op die veld moet waardeer.

“Ja, dit is baie teleurstellend om nóg ’n Wêreldbekertoernooi te mis. Ek kan wel bevestig dat ek op bystand was indien een van die losvoorspelers ’n besering sou opdoen. Maar beserings maak jou net hongerder om te speel – maak nie saak of dit vir Ulster of die Bokke is nie – dit is net wonderlik om rugby te speel.”

Hoewel Coetzee nou vir eers op Ulster se wedstryde konsentreer, sê hy tog dat hy een oog op die Bokke se wedstryde teen die Britse en Ierse Leeus in 2021 het.

“Om teen die Leeus te speel is beslis my langtermyndoelwit. Dit sal so lekker wees as ek dit kan doen. Maar vir eers moet ek vir Ulster presteer. As ek dit op ’n gereelde basis kan, kan die Leeus se deur dalk vir my oopgaan.”

Maar selfs al was hy nie saam met die Bokke in Japan nie, was hy beslis hul mees entoesiastiese ondersteuner in Ierland.

“Elke speler was immers eers ’n ondersteuner en daardie vuur word nie sommer geblus nie. Ek het baie vir die TV en vir die skeidsregters van my rusbank af geskree – dis maar goed dat hulle my nie kon hoor nie. Ek het baie goeie vriende in die Bokspan en kom veral met iemand soos Pieter-Steph du Toit goed oor die weg. Ek het beslis in hul vreugde gedeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

humor ·

Ek hoop jou droom kom waar, maar onthou die kwotastelsel is n ander lelike gogga en dit byt baie seerder as beserings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.