My naam is van der Merwe en ek speel vir die Springbokke: Franco vervang vir Flip

Flip van der Merwe

Die Springbokslot Flip van der Merwe sal die beslissende toets teen die All Blacks eerskomende Saterdag misloop nadat hy vir ‘n week geskors is weens ontoelaatbare spel.

Van der Merwe het Joe Tomane in die 39ste minuut van die toets teen die Wallabies met die elmboog geloop..

Die Sanzar-kommissaris het bevind dat die geelkaart vir ‘n gevaarlike duikslag was, maar dat hy uitgewys is vir ‘n opsetlike hou met die voorarm of elmboog. Hy het bevind dat dit ‘n oortreding van reël 10.4 (a) is, dat die hou te hoog was en dat Van der Merwe geen poging aangewend het om die speler in die aanvanklike kontak beet te kry nie. Dit was weliSwaar ‘n hou wat deur die reël verbied word, maar dit was nie opsetlik nie, is bevind.

Davidson het bygevoeg dat van der Merwe se goeie dissiplinêre rekord op internasionale- en Superrugby-vlak in ag geneem moet word. Die feit dat hy nie voorheen geskors is nie, het ook in sy guns getel

Intussen is die Goue Leeus se slot Franco van der Merwe  gevra om hom aan te sluit by die Springbokgroep wat op die toets voorberei. Hy is sedert Junie verlede jaar ’n gereelde lid van die groep en ken die strukture en planne goed.

Op die beseringsfront sukkel die senter JJ Engelbrecht met ’n beenspierbesering en sal genoeg tyd gegun word om te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.