Naas teen die Lem; Ford teen Farrell

Jare gelede, toe Naas Botha en Henry Honiball nog albei rugby gespeel het, was daar ʼn debat of ʼn veel jonger Honiball nie dalk ʼn beter keuse as ʼn heelwat ouer Botha in die nommertien-trui was nie.

Dit was in 1992, toe daar beplan is om die All Blacks en Wallabies ná jare lange isolasie te pak en aan die einde van die jaar met ʼn Europese toer af te sluit, wat twee toetse teen die Franse en ʼn toets teen Engeland ingesluit het.

Honiball (sy bynaam was Lem omdat hy sy teenstanders afgemaai het) is teen Botha opgeweeg, maar sy gebrek aan oordeel en ervaring is destyds oopgevlek wanneer hulle teen mekaar gespeel het. Botha het in die skaduwee van sy loopbaan steeds al die toutjies getrek en was nog nie gereed om uit die trop gestoot te word nie. Hy het in al vyf toetse in 1992 (as kaptein) gespeel en toe eers uitgetree.

Honiball het in 1993 as plaasvervanger sy buiging teen die Wallabies in Sydney gemaak en het ontwikkel in een van die bestendigste en gedugte Springboklosskakels (en soms senter) in sy 28 toetse.

Die Engelse afrigter, Eddie Jones, is die afgelope twee seisoene voor dieselfde vraagstuk geplaas om tussen George Ford en Owen Farrell te kies. Net soos die Bokke in 1995 gemaak het toe Hennie le Roux op binnesenter langs Joel Stransky ingespan is, was die maklikste uitweg om Ford op losskakel te behou en Farrell langs hom in te span.

Jones ag Ford baie hoog en het hom al met ʼn jong Dan Carter vergelyk, maar sy leemtes is ʼn paar keer al oopgevlek. Is dit nie een van die Engelse se probleme nie, dat Ford nie sy span op die voorvoet kan hou nie, nie oor die voordeellyn kom nie en nie genoeg kanse vir sy buite-agterspelers skep nie?

Nou het Jones die moed bymekaargeskraap deur Ford met Farrell te vervang vir Saterdag se laaste Sesnasies-stryd teen Ierland op Twickenham, waar die Iere se Britse en Ierse Leeus-losskakel Johnny Sexton op hulle wag.

As die Engelse weer verloor, sal Jones in tamatiestraat sit, want wees maar verseker dat Ford in die Bokafrigter, Rassie Erasmus, se visier sal wees wanneer die Bokke in Junie in drie toetse teen die Rose te staan kom.

Ford is geen Farrell nie, net soos Honiball destyds geen Botha was nie.

Ierland, wat reeds die Sesnasies-kroon by Engeland afgeneem het, sal poog om die Grand Slam (oorwinnings oor die drie ander tuisunies) slegs die derde keer sedert 1948 te wen.

♦  In Cardiff kan Wallis seker van ʼn tweede plek maak (en Engeland dus uitstoot) terwyl Skotland sy nuutgevonde selfvertroue ʼn tree verder wil neem wanneer hy teen Italië speel.

Sesnasies-bepalings –

14:30:  Italië vs Skotland (Rome)
17:00: Engeland vs Ierland (Londen)
19:00: Wallis vs Frankryk (Cardiff)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Dit bly maar moeilik om te besluit wanneer is ‘n ou speler te oud, en wanneer kort ‘n jong speler nog ondervinding. Ek is daarteen dat jong spelers te vroeg ingesit word. Veral op losskakel waar ondervinding baie belangrik is. Kyk net watter goeie losskakels het Johan Heunis en Gysie Pienaar op hul oudag gemaak met hul goeie ondervinding. Maar keurders kan te lank aan ‘n speler vashou. Van die bogenoemde laaste 5 toetse van Naas het SA 4 verloor. En veral die een teen Aus op n papnat veld met die Springbokke op die agtervoet was seker Naas se swakste toets. Dalk sou Honiball beter gewees het? Wie weet.

bloues ·

In meeste gevalle maak of breuk die skrumskakel sy losskakel. Van Engeland se skrummie weet ek maar min maar in Suid Afrika is die vereiste van ‘n skrumskakel as volg:
1. Moenie rats wees nie
2. Moet soos n verkeersman arms swaai en teenstanders kans gee om verdediging lyne op te stel
3. Moet die bal optel en eers n paar stadige tree draf voor hy die bal uitgee om vir teenstanders kans te gee om beter te verdedig
Voor hierdie dom sienings nie verdwyn nie sal ons nooit weer n goeie loskakel hê nie.
Ek verstaan nie dat afrigters hieraan vasklou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.