Naelskraap, maar die Kings verloor weer

Vir die Southern Kings was dit weer amper, hierdie keer met ʼn hartverskeurende  enkele punt, toe hulle Saterdag in die Baai teen die Italiaanse span Benetton vasgeval het.

In die gelykopstryd was die Kings egter feitlik die hele tyd besig met inhaalrugby voordat hulle met 35-36 geklop is.

Rustyd was hulle, ná ʼn vroeë agterstand van 0-12, ná 18 minute kortstondig voor, maar Benetton het feitlik onmiddellik teruggeslaan en die voortou geneem. Hulle was daarna nooit weer agter nie en het rustyd met 26-21 voorgeloop.

Die Kings moes tot die 57ste minuut vir hulle volgende punte wag toe ʼn strafdrie aan hulle toegeken is. Teen daardie tyd het die besoekers egter hul telling na 33 laat aangroei met hul vyfde drie en toe het Marty Banks in die 64ste minuut ʼn strafdoel vir die besoekers deur die pale gejaag wat uiteindelik die verskil sou maak.

Die Kings was toe met 28-36 agter en die verdoelde drie deur Berton Klaasen in die 73ste minuut was uiteindelik nie genoeg nie.

Albei spanne  het vyf drieë, insluitende die strafdrie van die Kings, aangeteken. Die besoekers het die meeste besit en gebied gehad en het hul kanse beter gebruik.

Op hierdie vertoning sal Benetton egter onwaarskynlik een van die drie voorste spanne in afdeling B wees wat in die uitspeelwedstryde betrokke is.

En die Kings? Hulle het die afgelope paar wedstryde verbeter, maar kort daardie tikkie wat van hulle ʼn wenspan sal maak.

Puntemakers –
Southern Kings (21) 35:
Drieë: Luzuko Vulindlu, Godlen Masimla, Ruaan Lerm, Strafdrie (7 punte), Berton Klaasen. Doelskoppe: Kurt Coleman (2), Masixole Banda (2).
Benetton (26) 36: Drieë: Tomas Baravalle, Marco Lazzaroni, Marty Banks, Tommaso Iannone, Braam Steyn. Doelskoppe: Banks (4). Strafskop: Banks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CdV ·

Benneton eindtelling by puntemakers verkeerd aangedui. Is 36 nie 35.

Phillip ·

Dagsê CdV

Dankie vir jou valkoog. Die vingerfout is reggemaak.

Groete – Phillip Bruwer, nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.