Nagmerriebegin vir Cheetahs, Kings

Die Cheetahs het met 41-13 teen Zebre in Italië verloor. (Foto: Twitter)

Die nuwe jaar het op die slegste moontlike wyse vir die twee Suid-Afrikaanse spanne in die Pro14-reeks afgeskop.

In Italië het Zebre vyf drieë ingeryg om die Vrystaatse Cheetahs met 41 – 13 te klop. En waar die Bloemfonteinse span aan die begin van die toernooi die aanvallende vyftiental van die reeks was, het die Italianers hulle ’n ding of twee met die bal in hand gewys.

Tog was dit die Cheetahs wat eerste bloed geruik het toe Wilmar Arnoldi deurgebars het vir die wedstryd se eerste drie.

Kort daarna het Zebre se Charlie Walker egter die eerste van sy twee drieë gedruk en die tuisspan het ’n gemaklike voorsprong van 20 – 8 geniet.

In die tweede helfte het hulle net hul voet swaarder op die versnelpedaal neergesit om die wedstryd uiteindelik op ’n drafstap te wen.

Sedert Hawies Fourie die afrigtersleisels by Franco Smith oorgeneem het, kon die Cheetahs nog net die Ospreys op hul Europese toer wen.

Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Wilmar Arnoldi en Tian Meyer. Strafskop: George Whitehead.

Zebre: Drieë: Charlie Walker (2), Johan Meyer, Joshua Renton, Giulio Bisegni. Doelskoppe: Carlo Canna (5). Strafskoppe: Canna (2).

  • In Skotland het die doedelsakke glad nie ’n vrolike liedjie vir die Kings gespeel nie. Die Oos-Kapenaars is met 61– 13 op Murrayfield deur Edinburgh verrinneweer.

Die besoekers het – nes die Cheetahs – goed begin, maar Pieter Scholtz se rooikaart het hul planne effens deurmekaar gekrap.

Toegegee, die stut se afstamp-aksie het dalk nie heeltemal dié kaart regverdig nie, maar dit het die begin van die Kings se treurmare ingelui.

Hoewel hulle nog teen rustyd binne trefafstand was met die telling op 19 – 13 in die Skotte se guns, moes hulle teen die einde van die kragmeting met slegs 12 spelers op die veld klaargekom het.

Die tuisspan het behoorlik voordeel uit dié onregverdige stand van sake getrek en hulle het in die tweede helfte met die wedstryd weggehardloop.

Die voormalige Leeuslosskakel Jaco van der Walt was in die kol met sewe doelskoppe vir Edinburgh.

Puntemakers:

Kings: Drieë: Erich Cronje en JT Jackson. Doelskop: Jackson.

Edinburgh: Drieë: Michael Willemse, Duhan van der Merwe, Matt Scott, James Johnstone, Eroni Saul, Dave Cherry, Charlie Shiel, Mark Bennet en ’n strafdrie. Doelskoppe: Jaco van der Walt (7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.