Nagmerries oor die Southern Kings

Dit was pynlik, hartseer en is ʼn groot bron van kommer.

Nadat die Southern Kings Vrydagaand in Myreside in Edinburgh weer nie die mas opgekom het nie, wonder ʼn mens hoe lank die oorsese rugbybase, uitsaaiers en borge met die Kings se geploeter in die Pro14-reeks tevrede sal wees.

Elf wedstryde tot dusver gespeel, al 11 verloor. Net 170 punte aangeteken, maar 428 afgestaan; 20 drieë gedruk, maar 61 deurgelaat…

Ja, die Kings is nog in hul babaskoene en moet kans gegun word om te leer loop, maar hoekom kry die Cheetahs dit reg om in soortgelyke omstandighede aan te pas en die deur steeds oop te hou om oor 140 dae dalk vir ʼn moontlike eindstryd in Dublin te kwalifiseer?

Watter van Suid-Afrika se topspelers gaan bereid wees om vir die Kings te speel en hoe gaan die Kings hul eie talentvolle spelers kan behou en ontwikkel?

Dit was pynlik om te sien hoe die Kings met 37-7 deur Edinburgh oorrompel is. Alles het teen hulle getel: bekwame teenstanders, reën, hael, koue en nogmaals reën.

Die Kings kon nie aanpas nie, het op die oog af geen wedstrydplan gehad nie, is voor oorheers en agterlangs was daar maar min deurdringingsvermoë.

Ja, die bal was seepglad en nat, maar is dit nie juis waaroor die rugbybase gewaarsku is toe hulle die Supermat onder die Kings en Cheetahs gepluk het nie?

Wanneer laas het ʼn Skotse span, wat nie juis bekend vir hul skrumwerk is nie, met ʼn Suid-Afrikaanse span in die skrums geploeg?

Ek dink die Oostelike Provinsie se oud-Bokstutte soos Hannes Marais, Hambly Parker, Amos du Plooy en Frans Erasmus sou hul koppe in ongeloof geskud het.

Nog erger, daar is bespiegelinge dat die Kings se afrigter Deon Davids dalk by die Springbokke betrek sal word.

Jare lank al is die OP die weeskind van Suid-Afrikaanse rugby. Ja, dis baie deur hul eie toedoen, maar wat gaan aan?

Nadat die Oostelike Provinsie in Februarie 2016 onder administrasie geplaas is en uiteindelik in Augustus 2016 gelikwideer is, het die Suid-Afrikaanse Rugby oorgeneem, maar beslis dat die OP Rugbyunie steeds sy eie ampsdraers kan kies.

Maar wie staan pa vir die Southern Kings, wat veronderstel is om die baken vir rugby in die Oos-Kaap te wees?

Watter boodskap van Suid-Afrikaanse rugby straal die Kings (en Saru) na Europa uit?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerd Lourens ·

Maak die Kings almal Bokke, met Luke die afrigter en Cheeky die spanbestuurder…

Nico ·

SA rugby meer as die OP moet pa staan vir die gemors. Hulle het geweet hulle gaan Kings uitskop. Cheetahs het lang termyn kontrakte gehad wat Kings nie het nie. As hulle Kongs gehelp het om onmiddelik langer kontrakte te teken net die opsie om kantrak totniet teverklaar as hulle noe in die super 14 toegelaat sou word nie soi hulle ‘n meer gevedtigde span gehad maar sedert super rugby in die Suidelikehalfrond met franchises begin het, het SA rugby die rugby in die Ooskaap nog net geondermein soos hy sy SA rugby ondsrsteuners ook pp nasionale vlak ondermein.

Frans C ·

Die skrif was aan die muur toe talle spelers die Kings na Superrugby verlaat het om by ander
spanne aan te sluit.Die Kings is deur SARU vir die wolwe gegooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.