Naka Bulle knikker SA kampioen uit Carltonliga

Die Naka Bulle het Saterdag die Suid-Afrikaanse oopklubkampioen met ʼn puik terugvegpoging uit die Carltonliga geknikker.

Rustenburg Impala was teen rustyd gerieflik met 20-10 voor, maar die Mootspan het die Goue Bekerhouer (GB) in die tweede helfte tot stistand gespeel om op die ou end met 29-20 te wen.

Wat ander bonde ook al mag sê of glo, die uitslag laat geen twyfel nie dat die Carltonliga die strafste klubreeks in die land is.

Johanna de Vos, wat die Bulle se statistiek op die punte van haar vingers ken, wys daarop dat vyf van die ses spanne in die liga ses uit tien wedstryde gewen het, en bonuspunte deurslaggewend in die bepaling van die puntestand is.

Die oorwinning plaas Naka, die Noorderbonde se Assupol-kampioen, een punt bo Impala in die vierde plek op die punteleer, wat beteken dat hy teen die voorloper, Quins-Bobbies-rugby (QBR), in die halfeindstryd te staan sal kom.

QBR het ontstaan uit ʼn samesmelting tussen Pretoria Polisie, een van 2016 se GB-kwarteinders, en Harlequins.

In die ander halfeindstryd sal die verdedigende Carltonkampioen, Centurion, teen die Varsitybeker-kampioen, die Tukkies, te staan kom.

Dis nou te sê as daar nie intussen, soos meermale die afgelope jaar of wat, dissiplinêr teen een van die aanspraakmakers opgetree word nie.

Marquit September (twee), PJ Toerien en Frans Botha het Naka se drieë gedruk, en Hansie Graaff het drie verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

JP la Grange het ʼn tweekuns vir Impala aangeteken. Berto van Wyk het twee elk doelskoppe en strafdoele behaal.
September (agt) is nou die reeks se voorste driedrukker, met Steven Mohr (Centurion) se 129 steeds die meeste punte.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Naka 47, Impala 17.

Derde spanne

Impala 34, Naka 19.

Onder 21-spanne

Naka 61, Dragons 17; Centurion gee punte teen Impala.

Onder 20-spanne

Naka 43, Dragons 0; Centurion 47, Impala 0.

Opgesomde punteleer –

QBR 34 (10 bonuspunte), Tukkies 31, Centurion 31 (elk 7 bonuspunte), Naka 30 (6 bonuspunte), Impala 29 (5 bonuspunte), Dragons 1 (1 bonuspunt).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.