Naka-sege laat ‘verkramptes’ verligtingsug slaak

Die Naka Bulle se sege Saterdag, wat Suid-Afrika se beste oop klub, Rustenburg Impala, uit die wedloop om die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga geweer het, het heimlik talle rugbylui in die bond ʼn groot sug van verligting laat slaak.

Daar word gefluister dat dit ʼn groot “probleem” uit die weg geruim het, omdat baie tradisionaliste steeds swaar daaraan sluk dat ʼn klub van buite – Impala is ʼn Luiperdsklub – die gekoesterde Carltonbeker kan wen.

Naka het ná ʼn verbete terugvegpoging met 29-20 gewen, nadat Impala rustyd gerieflik met 20-10 voor was.
Die halfeindstryde word Saterdag 22 Julie op Loftus Versfeld-B tussen Tukkies en Centurion (15:00) en Naka en Quins-Bobbies-rugby (17:00) uitgespook.

Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê die manne van die Moot was terdeë bewus daarvan dat hulle, om die halfeindronde te haal, Saterdag met ʼn bonuspunt moes wen, en terselfdertyd moes voorkom dat Impala een kry.

“Dit is presies wat hulle op skitterende wyse vermag het, toe hulle in die doodsnikke van die wedstryd hul vierde drie onder die pale aangeteken het. Dit het gevolg op ʼn puik dryfbeweging deur die voorspelers, wat deur die slot Juan van der Westhuizen van stapel laat loop is, en deur PJ Toerien afgerond is.”

Burger sê ʼn ieder en ʼn elk van die Naka Bulle het van begin tot einde sy beste gelewer, en moes soms verbete verdedig om die aanslae van Impala af te weer.

Naka het ʼn gevoelige slag gely, toe sy losskakel, Jean Grobler, die veld met ʼn kniebesering moes verlaat. Dis onseker of hy vir die halfeindtryd gereed sal wees.

“Gelukkig vir Naka het hy in Hansie Graaff, ʼn waardige plaasvervanger vir Grobler op die bank gehad.”

Graaff, wat Curriebekerrugby vir die Griffons en Suidwestelike Distrikte gespeel het, is pas terug in Suid-Afrika ná ʼn blink seisoen in die Spaanse Liga van Eer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.