Namibië beklink Goue Afrikabeker en RWB-plek

Namibië het Saterdag in Windhoek seker gemaak van sy plek in die volgende Wêreldbekertoernooi in Japan deur Rugby Afrika se Goue Beker te verower.

Die Biltongboere het onverwags ver gewen, en hul vernaamste uitdager, Kenia, met 45-7 oorrompel (rustyd 14-0).

Cliven Loubser het 11 punte met ’n drie en drie doelskoppe aangeteken, en David Philander het twee keer agter die doellyn gaan kuier.

Die res van die wenspan se drieë is deur Chrysander Botha, JC Greyling, Casper Viviers en Lesley Klim gedruk. Theuns Kotzé het nóg twee verdoel.

Kenia, wat deur die Suid-Afrikaner Jerome Paarwater afgerig word, se punte is deur Moses Amusala (drie) en Isaac Adamo (doelskop) aangeteken.

Op die veld van die Prince Edward-skool in Harare het Tunisië in die ander wedstryd in die reeks met 31-22 teen Zimbabwe gewen.

Die laaste twee wedstryde word Saterdag afgehandel wanneer Uganda en Zimbabwe in Kampala kragte meet, en Tunisië in Monastir teen Senegal te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.