Namibië los Curriebeker soos warm patat

Die Namibiese Rugbyunie (NRU) het sy deelname aan die Curriebeker- Eerste Liga soos ʼn warm patat gelos.

Die Welwitschias sou nog Saterdag teen die verdedigende kampioen, die Griffons, in Windhoek speel, toe die SA Rugbyunie (Saru) Vrydag uit die bloute aankondig dat die tuisspan aan die reeks onttrek het.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, het die onttrekking betreur in ʼn verklaring wat Vrydag in Kaapstad uitgereik is, maar bevestig dat Saru as voorwaarde vir die Welwitschias se deelname gestel het dat die NRU besoekende spanne se reiskoste dra.

Hy sê die NRU het daartoe ingestem.

“[Saru] is sedertdien in kennis gestel dat [die NRU] dit nie meer kan doen nie, en die Welwitschias aan die reeks onttrek. Al die oorblywende spanne sal ʼn loslootjie hê op die naweke dat hulle teen die Namibiërs sou speel.”

Die kwessie spruit uit Saru se halvering van sy toelae vanjaar aan die kleiner bonde. Sowel die Griffons as die Luiperds het dadelik laat blyk dat hulle, as gevolg daarvan, nie al hul weg-bepalings in die Eerste Liga sal kan nakom nie.

Die gebrek aan wedstrydervaring kan veral nadelig inwerk op die ontwikkeling van Namibië se spelerspoel met die oog op aanstaande jaar se toernooi in Japan om die Rugbywêreldbeker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries du Toit ·

Ou Doc Craven was reg. Geldrugby gaan die sport op grond en provinsiale vlak vermoor.Die Super reekse en Toetsrugby is in elk geval oorlede

BB ·

Wonder wat sal die top bestuur van SA rugby doen as hulle salaris net eweskielik met 50% gesny word. Wat beteken Jurie inelkgeval vir SA rugby??

Janie Nel ·

Dankie tog. dis jammer, maar beter so. NRU kan nie met die Curriebekkerspanne meeding nie. Ons het probeer maar die rekord is daar vir almal om te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.