Namibië maak geskiedenis in WB-aanspraakstryd

Chrysander Botha – jag rekord. (Foto: Facebook)

Namibië het Saterdag in Windhoek ʼn geskiedkundige grootste toetsoorwinning in sy Wêreldbeker-aanspraakstryd teen Tunisië behaal.

Die Biltongboere het die Karthago-arende in Rugby Afrika se Goue Beker-reeks met ʼn rekordtelling van 118-0 verfomfaai. Die rustydtelling was 52-0.

Hul vorige grootste sege was die 112-0 waarmee hulle Madagaskar in 2014 opgefrommel het (rustyd 63-0). Die tuisspan het destyds, nes Saterdag, 18 drieë gedruk.

Die vleuel Lesley Klim en die senter JC Greyling het teen Tunisië elk vier keer agter die doellyn gaan kuier, twee kort van die rekord van ses drieë wat Gerhard Mans in 1990 teen Portugal gedruk het.

Chrysander Botha (heelagter) het drie keer gaan druk. Sy getal toetsdrieë staan nou op 26, een kort van Mans se 27 wat sedert 1994 in die rekordboek staan. Sy totale getal toetspunte van 199 is die derde meeste, maar heelwat minder as die 431 wat Theuns Kotzé op die telbord geplaas het.

Die rekord van 33 punte in ʼn toets, wat Justinus van der Westhuizen in 2007 teen Zambië opgestel het, het nie in gedrang gekom nie.

Benewens ʼn strafdrie, het Johan Deysel, Maharua Katjiteto, Wian Conradie, PJ van Lill, Damien Stevens en Johann Tromp vir die res van die wenspan se drieë gesorg.

Cliven Loubser het nege, en PW Steenkamp vier, van die drieë verdoel.

Die slot Katjiteto is as die speler van die wedstryd aangewys.

In Casablanco, Marokko, het Kenia se Simbas hul eerste wegsege teen die tuisspan behaal deur die Atlasleeus in ʼn leeuestryd met 28-24 te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Attie ·

Namibië se rugby-adminstrateurs lyk minder domastrant te wees as die klomp suid van die Oranje.

Pieter ·

Gerhard Mans het daai driee gedruk teen Wallis , Skotland en Frankryk…… tel baie meer as Madagascar en Tunisie…

nico k ·

In die rekord boeke sal julle sien dat Namibië op hul dag Ierland 2-0 in ‘n reeks geklop het. (Was dit 1991?)

volla ·

Mans was ‘n goeie speler. Het teen hom gespeel in my weermagdae.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.