Namibië op pad na Japan, Kenia Marseille toe

Namibië – op pad Japan toe. (Foto: Rugby Afrika)

Namibië is op pad Japan toe, en Kenia pak sy tasse vir Marseille, Frankryk, maar dit was Zimbabwe wat Saterdag vir die grootste verrassing in Rugby Afrika se Goue Beker-reeks gesorg het.

Die Biltongboere het die Simbas in Windhoek oortuigend met 53-28 geklop (rustyd 22-7), en sal, soos verwag, Afrika aanstaande jaar in die toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) verteenwoordig.

Kenia sal as Afrika-naaswenner in November saam met Kanada, Duitsland en Hongkong aan ʼn vierhoekige heruitdun in Marseille deelneem, met die laaste beskikbare plek in die toernooi op die spel.

Cliven Loubser het 21 van Namibië se punte met ʼn drie, vyf doelskoppe en twee strafdoele herhaal, en Chrysander Botha en Louis van der Westhuizen het elk twee drieë gedruk. Max Tjeriko het ook gedruk en ʼn strafdrie is aan die tuisspan toegeken.

Zimbabwe, wat deur die gewese Springbokafrigter Peter de Villiers geslyp word, het allerweë verras deur Uganda, die gunsteling om die kragmeting te wen, in Kampala met 38-18 te verslaan (rustyd 19-10).

Dis die Swartwitpense se enigste oorwinning in vanjaar se reeks, en tas nie die Mahemme se derde plek aan nie.

Tunisië het vierde, en Zimbabwe vyfde geëindig.

Eersgenoemde, wat deur die Suid-Afrikaner Jaco Stouman afgerig word, het seker gemaak hy bly in die Goue Beker-reeks deur Marokko in Monastir met 36-13 te klop (rustyd 17-13).

Die Atlasleeus sal aanstaande jaar om die Silwerbeker meeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Namibië, baie geluk ! Sterkte vir al die voorbereidings voor die afskop van die Wêreldbeker !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.