Namibië sal moeilik uit Wêreldbeker gehou word

As hy voortspeel soos Saterdag teen Uganda, kan die Namibiese rugbyspan maar sy tasse vir aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker in Japan pak.

Die verdedigende kampioen het sy tweede sterkste uitdager, Uganda, in Windhoek met 55-6 in Rugby Afrika se Goue Beker-reeks verniel, en in die proses nege keer agter die doellyn gaan kuier.

Boonop verkeer die Namibiërs se voorste uitdager, Kenia, in ʼn geldknyp wat sy deelname aan die reeks in die weegskaal plaas.

Janco Venter, JC Greyling (2), Obert Nortjé, Johan Deysel, Louis van der Westhuizen (2), Wian Conradie en Chrysander Botha het Namibië se drieë gedruk.

Cliven Loubser het vyf daarvan verdoel.

In Saterdag se ander kragmeting in die reeks het die gewese Springbokafrigter Peter de Villiers se Zimbabwiese span verras deur Marrokko (ses plekke hoër op die Wêreldranglys) in Harare tot ʼn gelykop uitslag van 23-23 te dwing.

ʼn Verbroude strafskop in die doodsnikke van die wedstryd – en swak stelskopwerk oor die algemeen – het die tuisspan ʼn sege gekos. Dis iets wat hom later kwaai kan berou.

As die Swartwitpense hierop kan verbeter, behoort hulle egter ʼn gulde kans te hê om die vierhoekige heruitdun later vanjaar in Frankryk te haal, deur tweede in Afrika te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.