Namibië speel 3 tuis in vergrote Afrikareeks

Namibië speel vanjaar drie tuistoetse in die nuwe reeks om die Afrika- Gouebeker wat van vier tot ses spanne uitgebrei is.

Zimbabwe en Tunisië is terug in die vasteland se top-reeks, en die ander deelnemers is Kenia (verlede jaar se naaswenner), Uganda en Senegal.

Namibië, wat die top-reeks sedert 2014 oorheers het, speel vanjaar sy wedstryde teen Senegal, Zimbabwe en Kenia in Windhoek.

Hy pak Tunisië in Monastir, en Uganda in Kampala.

Die Afrikareekse is grootliks herskik en sluit nou ook ʼn Silwer- en Bronsbeker in. Laasgenoemde het ʼn Noord- en Suidafdeling.

Die res van rugbyspelende Afrika is in streekgroepe ingedeel wat elk om ʼn Streekuitdaagbeker speel – Wes 1 en 2, Sentraal en Suid.

Madagaskar, Ivoorkus, Botswana en Marokko ding om die Silwerbeker mee.

Die Bronsbeker (Noord) word deur Nigerië, Kameroen en Algerië betwis, en die Bronsbeker (Suid) deur Zambië, Mauritius en Rwanda.

Groep Wes 1 bestaan uit Benin, Ghana en Togo; Groep Wes 2 uit Burkina Faso, Mali en Niger; Groep Sentraal uit Burundi, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Gaboen; en Groep Suid uit Lesotho, Malawi en Swaziland.

Franse breiers

♦ Kameroen, wat ʼn tyd lank geskors was om sy huishoudelike sake in orde te kry, het die gewese Franse afrigter Phillipe St André se hulp ingeroep om sy rugby reg te ruk; en Algerië het twee Hane-toetsspelers Jean-Jacques Crenca (stut) en Francois Gelez (losskakel) as hulpafrigters aangestel.

Suid-Afrikaners sal Gelez onthou vir die rits strafdoele wat hy in die Hane se seges van 20-10 in 2001 in Parys (vier), en van 30-10 in 2002 in Marseilles (vyf) oor die Springbokke behaal het.

Die program –

April

23-29 Bronsbeker (Suid)

Mei

1-6 Streekuitdaagbeker (Wes 1)
7-13 Bronsbeker (Noord)
19-25 Streekuitdaag (Wes 2)

Junie

24 Kenia teen Uganda in Nairobi; Senegal teen Zimbabwe in Dakar

Julie

1 Tunisië teen Namibië in Monastir; Senegal teen Uganda in Dakar
4-8 Silwerbeker
8 Namibië teen Senegal in Windhoek; Kenia teen Tunisië in Nairobi
15 Kenia teen Senegal in Nairobi; Uganda teen Tunisië in Kampala; Namibië teen Zimbabwe in Windhoek
22 Zimbabwe teen Kenia in Bulawayo; Uganda teen Namibië in Kampala
29 Zimbabwe teen Tunisië in Harare; Namibië teen Kenia in Windhoek

Augustus

5 Uganda teen Zimbabwe in Kampala; Tunisië teen Senegal in Monastir

Oktober

1-7 Streekuitdaagbeker (Sentraal)
15-21 Streekuitdaagbeker (Suid)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.