Namibië: Wanderers druk sewe keer teen Rehoboth

Wanderers van Windhoek het Saterdag sewe drieë in sy kragmeting in die Namibiese Premierliga op Rehoboth teen die dorpspan gedruk.

Die span wat Namibië verlede jaar in die internasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig het, het met 39-6 gewen.

Dirk Human, die ondervoorsitter van Wanderers, sê Rehoboth is uit die staanspoor in die vaste fasette onder druk geplaas, en het vyf strafskoppe in die skrums afgestaan.

“Met dié grondslag het die besoekende losskakel MP Pretorius met sy kanonvoet en flair die spel dikteer, en was daar geen keer aan die Wêreldbekersenter Heinrich Smit in die nommer 13-trui nie. Wanderers het dikwels ruimte vir die vleuels geskep.

“Sterk lopies in die middelveld deur die binnesenter Dion Venter, die stut Nian Berg en die flank Adriaan Booysen het die besoekers op die voorvoet gehou.

“Die skrumskakel Enim Kritzinger se breekslae om die losskrums het Rehoboth gereeld aan die slaap gevang.”

Venter sê Wanderers se eerste drie het gekom ná ʼn stewige skrum, toe Pretorius vir Venter deur ʼn gaping gestuur het om te gaan druk.

“Berg het daarna sy eerste drie gedruk toe hy na drie fases sterk met die bal op loop gesit het.

“Die regtervleuel Malcolm Moore het die besoekers se derde drie gedruk nadat Wanderers sterk druk op die tuisspan geplaas, en die agterlyn puik hanteer het. Dit het die rustydtelling op 19-6 te staan gebring.

“Die bonuspuntdrie het gevolg toe Kritzinger, ná een van sy breekslae om ʼn losskrum, met die hulp van ʼn paar voorspelers gaan druk het.”

Venter sê Berg se tweede drie het gevolg op ʼn lynstaan nadat Pretorius ʼn strafskop in die hoek uitgeskop het.

“Toe Rehoboth hierna sterk aangeval en Wanderers onder druk geplaas het, was dit einste Pretorius wat vyf meter van sy doellyn af onderskep en die lengte van die veld genael het om ʼn drie in die hoek te druk.

“Booysen het sterk gebreek en 50 meter genael voor hy in die linkerhoek twee meter van die Rehoboth-doellyn af gestuit is. Drie fases later het hy sy welverdiende drie aan die oorkant van die veld gedruk.”

Wanderers kon slegs twee uit die sewe drieë verdoel.

Venter sê Wanderers het drie-vier drieë misgeloop vanweë swak hantering en ʼn ongunstige beslissing of twee. Twee geel kaarte het die span ʼn slag met 13 man gelaat.

Smit, Berg en die flank DG Wiese het buitengewoon goed verdedig, sê hy.

Eerste Liga (Wes)

♦ In die Eerste Liga (Wes) het Eastern Bulls van Gobabis met 24-20 teen Dolphins van Swakopmund gewen.
Niel Eimann, die Bulls se ondervoorsitter, laat weet die keerpunt het gevolg op ʼn stukkie uitstekende spel en ʼn breekslag deur die senter Freddy van der Merwe wat Nicky Ueitele vir die wendrie oorgestuur het.

Naas Uietele het veral Adriaan du Plessis en Markus Shikongo vir die Bulls uitgeblink.

Ueitele (twee), Shikongo en Petrus Kotzé het die wenspan se drieë gedruk.

Jasper Engelbrecht het twee verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.