Namibië, Zimbabwe lig sluier oor GB-deelname

Goue BekerNamibië en Zimbabwe het Dinsdag die sluier gelig oor hul oop klubs se deelname aan die toernooi om die Goue Beker (GB) wat op 10 September in Suid-Afrika afskop.

Die SA Rugby-unie-spreekbuis Gold Cup Rugby berig op Facebook dat die Namibiese Rugbyunie (NRU) bevestig het dat Wanderers van Windhoek dié land in die reeks sal verteenwoordig.

Wanderers het verlede jaar teen die Universiteit van Namibië in die NRU se Premierliga-eindstryd verloor. Die studente het 37-23 gewen, maar omdat die Goue Beker universiteitspanne uitsluit (in Suid-Afrika voorsien die Varsityreekse vir hulle), val die keuse op Wanderers.

Die legendariese Springbok Jan Ellis het jare lank dié klub verteenwoordig.

Inmiddels berig Gold Cup Rugby ook dat die Zimbabwese Rugbyunie (ZRU) op nasionale uitspeelwedstryde besluit het om sý deelnemer aan die GB-reeks aan te wys.

Dit sal op 11 Junie ná afloop van die eerste ronde van die streekligas van Harare (Noord) en Matabeleland (Suid) plaasvind.

Die drie topspanne van die Noorde en die topspan van die Suide sal in `n halfeindronde teen mekaar kragte meet voor die GB-deelnemer in die eindstryd aangewys sal word.

Bright Chivandire van die ZRU het aan Gold Cup Rugby gesê omdat Zimbabwe nie verlede jaar `n nasionale eindstryd gehad het nie, beskou hulle die uitspeelwedstryde as `n geleentheid om landwye geesdrif tussen klubs en ondersteuners gaande te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.