Namibiërs bring volop toetservaring na GB-reeks

TK Kaitjivi – flank van Western Suburbs en Namibië se o-21-span. (Foto: Western Suburbs)

Western Suburbs, Namibië se verteenwoordiger in die Goue Bekerreeks, spog met vyf toetsspelers in sy geledere.

Benewens die skrumskakel Eugene Jantjies met 60 toetse vir Namibië agter die blad, en die senter Darryl de la Harpe met 38, is daar ook Thomasau Forbes (flank,12), Gino Wilson (vleuel, nege) en Roderique Victor (agsteman, vier) wat elk bepaalde vaardighede en ervaring tot die groep bydra.

Hierbenewens is daar drie nasionale o.20-spelers wat aan die toernooi om die Junior Wêreldbeker in Uruguay deelgeneem het.

Walter Don, die span se bestuurder, sê die klub en spelers sien uit na die GB-reeks wat hulle as ʼn groot geleentheid beskou om hul vermoëns en mededingendheid teen die beste klubspanne in Suid-Afrika te meet.

“Ons sal waardevolle blootstelling geniet en, met klubrugby in Namibië nog op amateurvlak, sal ons jongelinge gewis groei en ʼn paar lesse uit die beroepsopset put.”

Suburbs is saam met Roses United van Wellington (Boland), Valsbaai (Westelike Provinsie), Sishen (Griekwas) en College Rovers (KwaZulu-Natal) gegroepeer, en Don verwag taai mededinging.

“Elkeen van die klubs het bepaalde en eiesoortige hoedanighede wat ʼn stempel op hul rugby afdruk. Party sal hul voorspelers strategies aanwend, waar ander ʼn mengsel van flair en innoverende rugby sal gebruik.”

Don glo die klub se diepte sal wesenlik beproef word, “maar ons het ‘n klompie jong spelers wat gretig is om die kans te benut om te leer en waardevolle ervaring op te doen”.

Hy meen Suburbs se opwindende agterspel en die vermoë van sy voorspelers om aanvalsruimte te vind wanneer hulle met die agterspelers kombineer, tel in die span se guns.

“Dissipline, ʼn positiewe ingesteldheid, spanwerk en uitnemendheid is sleutelaansporings binne die klub se raamwerk van waardes en opvattings.”

Don reken die span se gebrek aan ervaring op hierdie vlak kan hom tot nadeel strek.

“Ons sal tot die uiterste getoets word teen die beste in Suid-Afrika.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.