Namibiërs laat kampioen sweet vir sege

Darryl de la Harpe – driekuns. (Foto: Facebook)

Die Namibiese Welwitschias het een van hul beste vertonings die afgelope jare in die Suid-Afrikaanse reekse gelewer deur die Curriebeker- Eerste Liga-kampioen Saterdag te laat sweet vir ʼn sege in hul eerste wedstryd van die seisoen.

In ʼn skouspelagtige drieëfees het die Griffons op hul tuisveld daarin geslaag om die besoekers met 66-59 te klop (rustyd 26-19).

Die wenspan het tien keer agter die doellyn gaan kuier, en die verloorspan nege keer.

Duan Pretorius, die Griffons se losskakel, het 16 punte met agt doelskoppe behaal, en Arthur Williams (Griffons-senter) en Darryl de la Harpe (Welwitshia-senter) het elk vir ʼn driekuns drieë gesorg.

Hul drieë-oes, gepaard met die nederlaag met slegs sewe punte, het die Namibiers twee bonuspunte besorg. Hulle het selfs ʼn kwartier voor die einde ʼn kort rukkie lank met 59-52 voorgeloop.

Boland se sege van 40-27 oor die OP Kings in Port Elizabeth was goed genoeg om hulle op punteverskil boaan die punteleer te plaas, maar gesien dat die tuisspan grootliks uit klubspelers saamgestel is, sal ʼn mens die reeks kan moet gee om sy loop te neem voor ʼn oordeel oor die Kavaliers se vooruitsigte gevel word.

Erger dalk, dit laat `n mens wonder oor die Kings se mededingendheid in die Europese Pro14-reeks waaraan hy oor twee weke gaan deelneem.

Die besoekers was rustyd met 14-7 voor.

Hulle het ses drieë teen die tuisspan se vier gedruk, en kon die kragmeting eers tien minute voor die einde beklink.
In Oos-Londen het die Valke hul botsing teen die Grens met 48-41 gewen, nadat hulle rustyd met 19-7 voor was.

Die verloorspan se linkervleuel, S’bu Ncanywa,het drie drieë gedruk.

Die puntemakers –

Down Touch Griffons 66 (26) – Drieë: Arthur Williams (3), Selvyn Davids (2), Vuyo Mbotho (2), Barend Potgieter, Kwezi Mkhafu, Andrew du Plessis. Doelskoppe: Duan Pretorius (8).

Welwitschias 59 (19) – Drieë: Darryl de la Harpe (3), Johan Tromp, Jan Booysen, Shaun du Preez, Macho Prinsloo, Lesley Kim, Max Katjijeko. Doelskoppe: Theuns Kotze (7).

OP Kings 27 (7) – Drieë: Siyanda Grey (2), Cody Basson, Sonwabo Majola. Doelskoppe: Simon Bolze (2). Strafdoel: Simon Bolze.

Boland 40 (14) – Drieë: Sergio Torrens, Ludio Williams (2), Charles Mayeza (2), Arnout Malherbe. Doelskoppe: Divan Nel (5).

Grens 41 (7) – Drieë: S’bu Ncaywa (3), Lelethu Gclitshane, Sonwabiso Mqalo, Base Dubase. Doelskoppe: Bangi Kobese (3), Xolela Payi. Strafdoel: Bangi Kobese.

Valke 48 (19) – Drieë: Jan-Frederik Enslin, Thabo Mabuza (2), Friedle Olivier, Etienne Taljaard, Don Mlondobozi, Errol Jaggers. Doelskoppe: Warren Potgieter (4), Andries Truter. Strafdoel: Warren Potgieter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.