Namibiese breier wys knellendste probleem uit

Phil Davies (Foto: Facebook)

Die hoofafrigter van die Namibiese nasionale span, Phil Davies, het die span se knellendste probleem in ʼn onderhoud met Pale Toe! uitgewys.

Hy glo die span speel nie oor ʼn tydperk van 12 maande genoeg saam nie.

Pale Toe! het hom in dié opsig genader ná afloop van die reeks om Wêreldrugby se Nasiesbeker in Montevideo, Uruguay.

Namibië het Opkomende Italië met 38-22 geklop; maar met 13-15 teen Spanje, en met 10-31 teen Rusland verloor.

Namibië was uiteindelik vierde op die gekombineerde punteleer ná Uruguay (wat die beker die eerste keer gewen het), Rusland en ʼn Argentynse Vyftiental, met Spanje vyfde en Opkomende Italië laaste.

Davies sonder die sege oor Opkomende Italië as die span se beste vertoning uit.

“Ons het die sleutelaspekte van ons skopspel netjies beheer, en dit het ons toegelaat om druk toe te pas en ʼn klompie puik drieë te druk.”

Betreffende die min rugby wat die nasionale span speel, wys hy daarop dat dit die span se eerste toernooi in tien maande was.

“Namibië ding mee teen spanne wat 12 tot 15 wedstryde per jaar speel, en veel groter spelerspoele het. ʼn Land soos Spanje het 51 000 geregistreerde spelers teenoor Namibië se 1 200.

“Ons manne vaar dus goed, gesien dié ongelykheid.”

Davies sê die span het die meerderheid van sy gestelde prestasiedoelwitte bereik. Dit sluit die vaste fasette en die afronding van duikslae in.

Sterspan

“Ons wou egter nóg ʼn wedstryd wen, wat beteken ons het nie in ons uitslagdoelstelling geslaag nie.”

Hy sê daar was geen uitblinkers as sulks nie.

“Ons streef ʼn sterspan-ingesteldheid na. As eenheid het ons tans ʼn beter begrip van wat dit verg om volgehoue goed op hierde vlak te vaar.”

Davies is in sy noppies met die vertoning van al die nuwelinge in die span.

“Ons probeer voortdurend nuwe spelers in die groep insluit.

Afrikabeker

“Na gelang ons vorentoe beweeg om ons spel uit te bou en mededingend te bly, is dit uiters belangrik om die jong spelers die kans te bied om sulke internasionale toernooie te ervaar.”

Namibië, wat later vanjaar ook twee toetse teen Uruguay in Windhoek speel, fokus nou eers op die reeks om die Afrikabeker.

“Die reeks is van groot belang omdat dit vir Namibië die weg na die Rugbywêreldbeker is.

“Dit sal vanjaar ʼn moeilike reeks wees, wat groot uitdagings bring en waarna ons uitsien met die oog daarop om die beker te wen,” het Davies gesê.

Die Biltongboere het die reeks die afgelope drie jaar gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.