Naweek se kwarteindstryde nie op papier gewen

Enigeen wat reken die uitslae van Saterdag en Sondag se kwarteindwedstryde in die Supersportreeks is voor die hand liggend, kan dalk lelik op sy neus kyk.

Dis onwaarskynlik dat enige van die kragmetings op papier gewen sal word.

Ja, daar is gunstelinge, maar dit sal onverantwoordelik wees om enige van die buiteperde sonder meer te verontagsaam.

Saterdag op Ellispark het die Goue Leeus-vyftiental gewis ʼn neusie voor, maar die Pumas is ‘n moeilike spulletjie en die tuisspan sal ‘n baie groot fout begaan deur hulle te onderskat.

Die OP Kings is in ʼn lank agterweë opswaaifase, en aansienlik sterker as die Griffons wat die Griekwas verlede Saterdag op einste Griekwapark hard laat werk het.

Hoewel ‘n sterk moontlikheid, is ‘n Griekwasege geen uitgemaakte saak nie.

In die Groenpunt-atletiekstadion, Kaapstad, wanneer die meeste Suid-Afrikaners vir hul Sondagmaal aansit, is die speelveld gelyk vir die Sharks-vyftiental en die Blou Bulle.

Die ou-ou gemeenplaas dat die span wat sy kanse die beste benut die wedstryd sal wen, is waarskynlik die veiligste voorspelling.

Ná die Vrystaat-vyftiental se uiters teleurstellende vertoning verlede week teen die Sharks, word hy nie juis ʼn kans teen die onoorwonne Westelike Provinsie (op die koop toe op die Streepruie se tuiswerf) gegun nie.

Dit sal die grootste verrassing van die naweek wees as die Vrystaters die doemprofete hul woorde kan laat sluk.

Afskoptye –

Saterdag

14:00 Goue Leeus teen Pumas, Ellispark, Johannesburg
15:00 Griekwas teen OP Kings, Griekwapark, Kimberley

Sondag

12:45 Sharks-vyftiental teen Blou Bulle, Groenpunt-atletiekstadion, Kaapstad
15:15 WP teen Vrystaat-vyftiental, Groenpunt-atletiekstadion, Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.