Naweek-toetse onderstreep SA se gesukkel

Die heerlike toetsrugby oor die naweek het eintlik net onderstreep hoe sukkelend dit met Suid-Afrika op toetsvlak gaan.

Ja, die Bokke het nou twee uit drie van hul jaareindtoer se vier wedstryde gewen. En ja, hulle het darem struktuur en vasbyt teen Italië geopenbaar na hulle ʼn powere Frankryk verlede naweek met ʼn powere vertoning met net een punt gewen het, 18-17. Maar…

Frankryk teen Japan

Die Bokke se oorwinning verlede week teen Frankryk was een punt beter as Japan se poging. Húlle het Saterdag met 23-elk teen Frankryk gelykop gespeel. Had Yu Tamura die eenvoudige laaste doelskop kort voor die einde oorgeskop, was Suid-Afrika nie steeds die enigste topvlak-rugbyland wat teen die Japanners verloor het nie.

Italië het drie drieë teen die Franse gedruk, Suid-Afrika twee.

Hoeveel moet ʼn mens in die sege teen Italië lees? Hulle het na dese vanjaar 11 wedstryde gespeel en net een, teen Fidji, gewen.

Hulle het vanjaar verloor teen Wallis 7-33, Ierland 10-63, Engeland 15-36, Frankryk 18-40, Skotland 0-29 en 13-34, Fidji 19-22, Australië 27-40, Argentinië 15-31 en Suid-Afrika 6-35.

Wallis teen die All Blacks

Pasop vir die Walliese Draak. Tot tien minute voor die einde was die All Blacks in die knyp teen die Walliesers wat besit en gebied in Cardiff oorheers het. Hulle kon egter nie afrond teen uitstekende verdediging van die Nieu-Seelanders nie – en die All Blacks het hulle met hul samespel en goeie vleuels met 33-19 geklop.

Sal die Bokke dit Saterdag teen Wallis ook kan regkry?

Toe die besoekers hulle eerste drie na 15 minute druk, was dit uit eie gebied. Daar was tot in daardie stadium nie ʼn enkele skrum, losskrum of lynstaan in die All Blacks se kwartgebied nie, en ook vir sowat tien minute daarna ook nie.

Rieko Ioane en Waisake Naholo (twee elk) het vier van die wenspan se vyf drieë (teen Wallis se twee) gedruk.

Rustyd was die All Blacks 12-11 voor, en met 18 minute se speeltyd was die telling slegs 19-11, toe Ioane onderskep het en Wallis op 26-11 te ver agtergelaat het. Die All Blacks het weer ses minute voor die einde gaan druk met Wallis wat ook na 69 minute ʼn verdiende drie en ʼn flikkertjie hoop op 26-18 gekry het .

Maar al het hulle verloor, wag daar ʼn geweldige stryd op die Bokke – afhangende van hoeveel van Wallis se spelers die naweek beskikbaar sal wees wanneer klubs weer voorkeur bo toetse kry.

Hierdie Wallis is nie te versmaai nie.

Skotland teen die Wallabies

Skotland se amperse wen verlede week teen die All Blacks was duidelik geen gelukskoot nie. Hulle het agt drieë teen die Wallabies (vyf drieë) gedruk, en het na ‘n taai eerste helfte die wedstryd oorheers en met 53-24 gewen.

In Junie het hulle die Wallabies in Sydney met 23-19 geklop.

Vergelyk dit met die Bokke se twee gelykop-uitslae teen Australië…

As dit waar is dat die afrigter ʼn span se ingesteldheid bepaal, moet daar indringend deur die Aussies na hulle afrigter Michael Cheika gekyk word.

Die tirades, sy algemene optrede, insluitende woordewisseling met toeskouers op die pawiljoen, en selfs vloekery het hom al ʼn paar keer voor dissiplinêre komitees laat beland. En die Wallabies se gebrek aan dissipline wat teen Engeland al waarneembaar was, het Saterdag teen Skotland weer kop uitgesteek.

Sekope Kepu is vir ʼn skouerloop teen die kop van Hamish Watson net voor rustyd met ʼn rooi kaart af, en Kurtley Beale het weer, soos teen Engeland, ʼn geel kaart vir die bal wegklap gekry. Tussendeur het Michael Hooper min beheer oor sy troepe se dissipline gehad en het die strafskoppe en kaart-dreigemente deur die skeidsregter gereën.

Ierland teen Argentinië

Ierland was na ʼn halfuur met 13-0 en twee minute na rustyd 20-0 voor teen die Poemas wat met ʼn uitmuntende tweede helfte die Iere laat uithaal het om met 28-19 te wen.

Vergelyk die vertoning van die Poemas en hulle drie drieë elk met die Bokke se vertoning teen Ierland, wat met 38-3 teen Suid-Afrika gewen en toe vier drieë gedruk het sonder om een af te staan.

Engeland teen Samoa

Engeland se amperse B-span het taamlik voorspelbaar met Samoa gemors en met 48-14 gewen. Eddie Jones wou sy jong spelers kans op die internasionale verhoog gee, en hulle het nie teleurgestel met goeie vertonings nie.

Goed, dis net ʼn leerfase, maar hulle kon moontlik net soveel op die oefenveld bereik het.

Ander toetsuitslae die naweek –

Duitsland 10 Chili 32; Namibië 34 Uruguay 39; Georgië 21 VSA 20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Die Noordelike halfrond se voorste spanne se voorspelerspel is stukke beter as die van Suid Afrika en Australië.Die tyd lyk my is verby dat die Bokke voorlangs oorheers het en dan die agterlyn in goeie besit kon stel.

Sukkel hul voorlangs val hul plat soos teen Ierland.Gelukkig speel hul nie Skotland nie.
Is dit dalk ‘n geval dat die Suidelike halfrond spanne sou behep met hardloop rugby geraak het, om toeskouers te lok na ‘n drieë skouspel ,dat voorspelerspel afgeskep word, omdat dit as vervelig beskou word.

Die Cheetahs het in hul afdeling in die Pro 14 die meeste punte aangeteken maar ook die meeste afgestaan.

Callie ·

Dit sal altyd so wees. Kry n skakelpaar wat kan dikteer. Dan hoef jou pak net gelykop te wees en jy gaan wen. Jy moet die reg om te hardloop verdien. Oom Buurman het altyd gese maak sag voor en slaan dan agter. Die Bulle wat superrugby titel gewen het en Jake white se bokspan het dit bewys. Maar een groot feit, jy gaan dit nie met kwotas regkry nie

bollie ·

Frankryk het slegs 2 tuiswedstryde vanjaar verloor, teen NZ en SA. Hulle het 3 van hul 5 wedstryde in die 6 Nasies gewen. Glad nie so swak nie.

Hewitt ·

Wallis het ook al teen Japan verloor, so SA is dus nie die enigste top-vlak span wat teen Japan verloor het nie. Nie dat dit die skande minder maak nie, ek sê egter maar net.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.