Nederlaag-nadraai: Borthwick kap na Jones

Steve Borthwick tydens Engeland se Sensnasies-wedstryd teen Skotland op Twickenham. Foto: Andrew Cowie/Colorsport/DPPI via AFP.

Die Steve Borthwick-era saam met Engeland het op ʼn verloornoot begin toe die Rose met 29 – 23 teen Skotland op Twickenham verloor het.

Duhan van der Merwe, die Skotte se Suid-Afrikaans gebore vleuel, het die tuisspan se verdedigers veral laat bontstaan om twee puik drieë te druk.

Maar in plaas daarvan om ʼn bietjie selfondersoek te doen, het Borthwick onmiddellik na die splinter in Eddie Jones se oog verwys. Hy voer aan dat die span wat hy van die Aussie-breier oorgeërf het, sukkel om die mas op te kom.

“Ek het vanuit die staanspoor gesê dat daar baie werk op ons wag. Ek het die span se vertonings in die herfsreeks saam met die beskikbare data ontleed en bevind dat ons doodeenvoudig nie goed genoeg was nie,” het die nuwe afrigter vir die Engelse media gesê.

Volgens Borthwick probeer hy nou sy bes om die Rose ʼn meer afgeronde internasionale span te maak.

“Teen Skotland was daar weliswaar ʼn paar goeie dinge, maar daar was ook hope teleurstelling. My werk is om toe te sien dat ons met elke wedstryd verbeter.”

Die 43-jarige oudspeler meen dat Engeland veral beter geskrum het, terwyl hul werk by die afbreekpunte ook beter gelyk het.

“Ek het die spelers gevra om op ʼn nuwe manier te speel; hulle moet in hulself glo en hul sterk punte op die speelveld uitstal. Hulle moet na die beste van hul vermoë speel – iets wat ons die afgelope ruk nie veel van gesien het nie. Ek glo darem dat daar ʼn merkbare verbetering was.”

Tog is hy teleurgesteld oor die wyse waarop die tuisspan ʼn voorsprong van 20 – 12 deur hul vingers laat glip het.

“Ons het positiewe rugby in die tweede helfte gespeel, maar ongelukkig het ons ook die deur heeltemal te groot vir die Skotte oopgelos. Ons moes die wedstryd gewen het, maar ons het nie.”

Borthwick het in Desember ʼn kontrak van vyf jaar onderteken nadat Jones die trekpas as hoofafrigter gekry het.

  • Die Engelse speel Sondag teen Italië. Die wedstryd begin om 17:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Renier ·

Steve jy sal een of ander tyd ander verskonings moet soek.

Jakkie ·

Regtig so jammer om van jou moeilikheid te hoor……alles wat “verkeerd” is hier by ons is ook die voorgangers se “skuld”.

JohanR ·

Was die grootste probleem Saterdag dat Farrell nie man alleen twee Scotland spelers beseer het nie?

Manie ·

Jy sal nog jare moet afrig voordat jy langs Eddie Jones kan sit Steve Borthwick.

Kokkies ·

En as Engeland gewen het, sou hy vir Eddie Jones die eer gegee het? NEE, dan was dit net Steve Borthwick. Blame it on the bunny.
Hey Farrel, het jy vir Duhan van de Merwe gesien?
Nee, ek soek nog na Kolbe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.