Nee wat Allister, aan dié storie sluk ʼn mens maar swaar

Allister Coetzee – waarom ʼn slot in ʼn flank se plek? (Foto: Hando Jikelo/ANA pictures)

Die ou gesegde van oggend- en aandpraatjies wat nie ooreenstem nie, is ongetwyfeld van toepassing met die keuse van die beseerde flank, Jean-Luc du Preez, se plaasvervanger vir die Springbokke se jaareindtoer.

Binne ʼn dag nadat dit Maandag bevestig is dat Du Preez sy enkel gebreek het en vervang sou moes word, het die Bokafrigter Allister Coetzee ʼn slot in sy plek vir die toer gekies.

Ja, Ruan Botha, die Sharks se kaptein, verdien ongetwyfeld ʼn toerplek. Hy het ʼn wonderlike seisoen gehad. ʼn Mens gun hom dit.

Maar is hy dan nie ʼn slot nie?

Coetzee motiveer sy insluiting uitstekend. Want kyk, die Bokafrigter kán vir jou glad praat.

Franco Mostert kan nie in die laaste toets speel nie, sê Allister. Dit is seker ook so dat hy meen dat Pieter-Steph du Toit na sy goeie vertoning teen die All Blacks as steelkantflank gebruik gaan word.

ʼn Mens aanvaar ook geredelik Coetzee se verduideliking dat Pieter-Steph en Oupa Mohoje albei as vaskopflanke ingespan kan word as hy so sou wóú kies of móét kies oor die kleurvereiste.

Ons glo Coetzee ook dat daar eintlik genoeg losvoorspelers in die  toergroep is met Francois Louw, Dan du Preez, Siya Kolisi (wat ook ʼn toets sal misloop), Mohoje en Uzair Cassiem (en Du Toit).

Maar seblief tog, Allister, vertel tog hoekom het jy hierdie dinge nie oorweeg toe die toerspan aangekondig is nie? Wat het verander sedert jy die span Sondag aangewys het? Jy het tog geweet van Mostert wat nie teen Wallis sal kan speel nie? Jou siening oor spankeuse en oor die moontlike/waarskynlike gebruik van Du Toit het tog nie Maandagaand in ʼn droom gekom nie?

♦  En net so kou ʼn mens maar redelik swaar aan die motivering dat Botha dit verdien het. Hy hét, geen twyfel daaroor nie. Maar hierdie is ʼn Springbokspan. Jy kies nie ʼn man oor hy dit verdien het nie, maar oor hy die beste is en omdat hy nodig is.

Want sien, as ‘verdien’ ʼn kriterium is, sal daar honderde nuwe Bokke deur die jare gewees het.

Rohan Janse van Rensburg het dit ook verdien. Hy het ook goeie rugby gespeel. En ʼn mens kan met hierdie argument voortgaan, soos oor Robert du Preez se weglating; en op grond waarvan is Raymond Rhule, Rudy Paige en Damian de Allende dan gekies?

Het hulle dit verdien op grond van sulke goeie vertonings voor die span gekies is wat teen Frankryk moes speel?

En Chiliboy Ralepelle? Die enkele kere wat hy so ʼn paar minute vir die Sharks gespeel het, was sekerlik nie genoeg om te sê hy het dit verdien nie.

Nee wat, niemand koop sommer meer wat jy sê nie, soos ondermeer ook dat jy in kontinuïteit glo nie. Want dan het jy dít nie verlede jaar met jou rondspringery in  spankies toegepas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Springbok ·

Neewat ou AC praat so rond en bont dat mens hom nie meer kan glo nie….amper soos ons eerwaarde prez jakopregop

Henk ·

Die agbare skrywer het vergeet van EEN belangrike speler – Hoe, waar en wanneer het POLLARD dit VERDIEN om in die span gekies te word? Sekere SARU amptenare en afrigters moet BESLIS politiek as ‘n loopbaan oorweeg……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.