Neef ‘steel’ sy neef se rekord

ʼn Ugandese rugbyspeler se driedrukrekord het Saterdag kortstondig in die rekordboek gestaan, voor sy neef dit skouspelagtig by hom afgeneem het.

Toe Michael Wokorach in die eerste helfte van Uganda se wedstryd teen Tunisië in Rugby Afrika se reeks om die Goue Beker ʼn drie gaan duk het, het hy Allan Musoke se rekord van agt toetsdrieë vir die Mahemme geëwenaar.

Sy oomblik van glorie het egter vinnig getaan toe sy neef, Philip Wokorach, in die tweede helfte drie drieë opeenvolgend ingeryg het om ʼn nuwe rekord van 10 drieë op te stel.

Hy het benewens die driekuns sewe doelskoppe en twee strafdoele bygevoeg om 35 punte op die telbord te plaas, waarskynlik ʼn Ugandese rekord vir ʼn bepaalde toets. Hy het in elk geval sy rekord as voorste Ugandese puntemaker in toetse tot 131 opgeskuif.

O ja, die Suid-Afrikaanse afrigter John Duncan se Mahemme het die wedstryd met 67-12 gewen (rustyd 21-5) – hul eerste sege in vanjaar se reeks, wat na alle waarskynlikheid in die pylvak op ʼn tweestryd tussen Namibië en Kenia afstuur.

ʼn Indrukwekkende Namibië het Saterdag nóg ʼn groot oorwinning behaal deur Zimbabwe op Hartsfield, Bulawayo, met 58-28 te verslaan (rustyd 27-7).

Dit was waarskynlik die mees verbete stryd wat die Biltongboere tot dusver vanjaar moes voer, maar die Swartwitpense het op die ou end eenvoudig te veel foute gemaak, te halfhartig verdedig en te swak dissipline aan die dag gelê.

Sowel Namibië as Kenia is tot dusver onoorwonne en dit lyk of hul kragmeting oor twee weke in Windhoek in wese ʼn “eindstryd” sal wees.

Cliven Loubser het 16 van sy span se punte teen Zimbabwe met vyf doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Namibië se agt drieë is deur Lesley Klim, PJ van Lill, JC Greyling, Wian Conradie, Torsten van Jaarsveld, Tijiuee Uanivi, Louis van der Westhuizen en Johann Tromp gedruk.

PW Steenkamp het een verdoel.

Die wenner van die reeks sal Afrika aanstaande jaar in Japan in die toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) verteenwoordig. Die naaswenner sal in November in die vierhoekige heruitdun in Marseille, Frankryk, ʼn tweede kans kry om sy RWB-plek te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.