Net 6 ramp-Bulle oor ná Mitchell snoeiskêr vat

John Mitchell (Foto: YouTube)

Net ses van die Blou Bulle se opdrafspan wat rampspoedig met 15-51 teen die Pumas verloor het, het oorleef vir Vrydag se Curriebekerbotsing teen Griekwas, nadat die nuwe afrigter, John Mitchell, met die snoeiskêr ingespring het.

Die gewese afrigter van die Amerikaanse Arende, sê in ʼn verklaring, wat in Pretoria uitgereik is, hy wil nuwe spelers wedstrydkans gee, en het nog geensins tou opgegooi wat die res van die seisoen betref nie.

“Ons ontwikkel nog ʼn span. Ons het ʼn nuwe spelstyl en filosofie aanvaar… maar dis ʼn omvattende opknapping wat tyd sal verg.”

Die halfdosyn wat oorbly, is die stut Lizo Gqoboka, die slot Ruben van Heerden, die flank Jannes Kirsten, die agsteman Nick de Jager, die senter JT Jackson en die heelagter Warrick Gelant.

Slegs Van Heerden en De Jager het in al die Bulle se Curriebekerwedstryde tot dusver die seisoen gespeel.

In die vaste vyf is Gqoboka se nuwe voorrymaats Dayan van der Westhuizen (vaskopstut) en Edgar Marutlulle (haker), terwyl Aston Fortuin sy Curriebekerbuiging in die beseerde Abongile Nonkontwana se plek op slot maak.

Shaun Adendorff, wat die beseerde Boom Prinsloo op flank vervang, is die enigste nuwe losvoorspeler.

Die gewese A-o.20-speler Ivan van Zyl en die Springbok Marnitz Boshoff is die nuwe skakelpaar in André Warner en Joshua Stander se plek, in ʼn agterlyn wat op papier nogal indrukwekkend lyk.

Johnny Kotzé is JT Jackson se nuwe sentermaat, en Rabs Maxwane en Duncan Matthews – wat albei van beserings herstel het – is die nuwe vleuels.

Die Ugandees gebore losvoorspeler Tim Ugaba, ʼn Olimpiese Blitsbok van die Kings af, sal na verwagting sy Bulle-buiging van die bank af maak. Nóg ʼn Blitsbok en SA o.20-speler, Stedman Gans, wat op bystand vir die bank is, kan die blou trui die eerste keer oor die kop trek.

Die span –

15. Warrick Gelant, 14. Duncan Matthews, 13. Johnny Kotzé, 12. JT Jackson, 11. Rabs Maxwane, 10. Marnitz Boshoff, 9. Ivan van Zyl, 8. Nick de Jager (kaptein), 7. Jannes Kirsten, 6. Shaun Adendorff, 5. Ruben van Heerden, 4. Aston Fortuin, 3. Dayan van der Westhuizen, 2. Edgar Marutlulle, 1. Lizo Gqoboka. Bank: 16. Johan Grobbelaar, 17. Matthys Basson, 18. Jano Venter, 19. Tim Agaba, 20. André Warner, 21. Tony Jantjies/Tinus de Beer, 22. Franco Naudé/Stedman Gans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nico K ·

Die interessante stelling in die berig is dat die Bulle se agterlyn op papier goed lyk. Dit is die probleem. In die begin van die seisoen het die Bulle ook goed gelyk “op papier”.

Slim ·

Ja, dis waar, maar die groot verskil is dat die Bulle nou ‘n afrigter in John Mitchell het, terwyl Nollis Marais selfs as baljoggie beswaarlik ‘n sukses van sy verantwoordelikheid sou kon maak; laat staan nog die van afrigter. Dis ook die rede waarom die Bokke tot dusver vanjaar beter lyk…die regte afrigtingspan is in plek gesit en die “wannabees” is huis toe gestuur. Net jammer dit het die Bulle se bestuur so lank gevat om wakker te skrik en die koffie te ruik.

Veritas ·

Hulle kort ‘n kopdokter wat hulle kan leer om rugby te dink. Die spelpatroon is voorspelbaar en dit wil voorkom asof hulle nie instinktief kan handel nie. Lyk soos ‘n klomp ongeoliede robotte.

Slim ·

John Mitchell is afrigter, kopdokter en opvoeterdokter alles in een…ou soos daai het nie hulp van enigeiemand nodig om die kaf van die koring te skei nie. Dis hoekom Nieu Zeeland so goed is, hulle bestuur en afrigters vat geen nonsens van niemand nie.

pbotha ·

Merk ek so ‘n onrustigheidjie op in die kommentaar van die opponente? Mitchell…doen wat reg is vir die Bul. Bring die trots en disippline trug. Kies die ouens wat wil speel.

Verskil tussen die Bulle en die res van SA…as ons swak is vat kns dit op die ken. As ons goed is bring ons die silwerware in…curry cup..super 15…noem dit. Of hoe wp leeus en sharks? ??

PieterF ·

Alhoewel dit lyk of die Springbokke nie op die ABs se vlak sal kom nie behoort die Aussies ten minste 7 uit tien toetse geklop te word. Ek is nie ‘n Bulls ondersteuner nie en my span het in my jong dae omtrent altyd bloedneus gekry op Loftus. Die gees op Loftus was uniek en al het my streeptrui seuns dit soms moeilik gehad met die kuiergatte wat hulle wou “bekeer” was rugby-kyk in Pretoria daardie jare amper lekkerder as op Nuweland. Sien uit daarna dat die Bulle weer die vlak bereik waar hulle hoort.

WONDER ·

PieterF, Ek stem 200% saam met jou. Ek is en was altyd ‘n Bul ondersteuner maar ek sien ons dink dieselfde. Ek het nog altyd geglo dat wanneer Noord (Bulle) en Suid (WP) se rugby op peil is en ons oorheers die wedstryde, Dan is ons Bok span ook altyd goed. Ek hou van die huidige Bok span se spelpeil en hopelik gaan ons teen ordentlike opposisie kan hond haaraf maak. Die WP EN BULLE is egter NIE waar hulle behoort te wees nie en “op papier” is ver verwyder van “op die veld” af.

Arie ·

Nollie was te bang om veranderings te maak, hy het met ‘n fool aangehou tot hy beseer was of iets, bly om te sien John het die guts om dit te doen, die unie is soos Nollie te bang om bestuur (Braam) hel toe te stuur

pbotha ·

Lekker gesels ons nou oor die bul eni wp van die ou dae! sooo waar…niks groter gewees as die stryd tussen noord en suid nie. ek al vir 50 jaar n bul…maar altyd n gesonde respek gehad viri wp. grootste fout in ons rugby is die verwaterde superreeks. maak currybeker weer sterk en trots…en los die alewige jaarlikse reeks teen oz en nz. doen weer die lang toer met 4 toetse terug…en sien hoe ons rugby blom. Viva die ou bul en die wp!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.