Net een skepdoel en alles was verby

Dan Carter (Foto: sanzarrugby.com)

Ek wonder darem hoe ver die All Blacks die Springbokke Saterdag in Wellington sou geklop het as Naas Botha in hul span was, of Derick Hougaard, of Jannie de Beer, of Morné Steyn, of Joel Stransky.

En wat van Jonny Wilkinson, Hugo Porta, Rob Andrew, Nicolas Sanchez, Jean-Patrick Lescarboura, Pierre Albaladejo, Didier en sy pa Guy Camberabero? Om nie te praat van Nieu-Seeland se eie Andrew Mehrtens of Dan Carter nie?

Net een skepdoel kon die verskil gemaak het, maar toe verloor die wêreld se beste span met 34-36.

Om te kan skepskop, is ʼn vaardigheid waarmee jy gebore word. Almal kan skepskop, maar nie almal kan die bal oorkry nie.

Aan die ander kant, die All Blacks-losskakel Beauden Barrett skepskop tog baie akkuraat af en in. Hoekom mik hy dan nie pale toe nie, of is dit teen hul grein omdat hulle net met drieë wil wen?

Wat help dít as ʼn span soos die All Blacks ses drieë teen die Bokke druk, maar steeds verloor?

As jy só daarteen gekant is, hoekom neem jy dan strafskoppe na die pale toe waar?

Volgens die All Blacks se plaasvervanger-skrumskakel, TJ Perenara, was dit nie vir hulle ʼn opsie nie, en sal dit ook nie wees as hulle in dieselfde posisie geplaas word nie.

Het die All Blacks dan só gou van die bittere nederlaag in die kwarteindstryd van 2007 se Wêreldbeker-toernooi teen die Franse vergeet toe hulle ook nie wou skepskop nie? Hulle is toe met 20-18 geklop en rou nou nog daaroor.

Wat van Stransky se wen-skepdoel in die Wêreldbeker-eindstryd in 1995 toe die Bokke in bykomende speeltyd die All Blacks met 15-12 geklop het? En Botha se twee skepdoele in 1986 (en nog een deur Michael du Plessis) wat die Nieu-Seelandse Kavaliers gekelder het?

Wat van die Bokke se twee skepdoele in 1976 (Dawie Snyman en Ian Robertson) toe die All Blacks die toetsreeks met 1-3 verloor het? Wat van Botha se twee skepdoele wat die Bokke so byna in 1981 die reeks in Nieu-Seeland laat wen het?

ʼn Mens wonder wat sou gebeur het as Carter of Mehrtens Saterdag gespeel het.

Vir die rekord: Botha het met 18 skepdoele in net 28 toetswedstryde geslaag, Wilkinson het 36 in 97 toetswedstryde deur die pale geklits, Porta 28 in 68 toetse en Mehrtens 10 in 70 toetse.

Daar is vier Franse in die lys van die wêreld se voorste skepskoppers, en drie Walliesers, twee Bokke, twee Engelse, twee Poemas en twee Skotte.

En Beauden Barrett? Nie een skepdoel in 67 toetse nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genieve

Ja ek stem saam want ek gesien Dawid Makenzie het agtentoe beweeg met die doel iemand gaan vir hom die bal pass om die skepdoel aan te stuur pale toe..maar ons die bokke het gewys daar steek darem nog iets in ons.

Henk

Kom ons kyk so na die prentjie – as Dyanti se hand NIE daai bi sep getref het nie, het die AB’s gedruk. En dan het hulle gewen. Skepskop? Ja goed en wel, maar waarom sal die AB hulle energie daarmee vermors as hulle toets op toets wen deur driee in te ryg?

Henry

Wys jou net wat die ongewone/onbekende druk op die AB’s en in besonder op Barrett gemaak het.
Sy selfvertroue wat gedurende die wedstryd hom moontlik in die steek gelaat het, het reeds tot ‘n hele paar ongewone en mislukte skoppe pale toe gelei, wat ook ‘n rol kon gespeel het. Miskien was hy te katvoet om nog ‘n mislukte poging pale toe aan te wend.
Sover my gebrekkige ervaring strek, is die losskakel mos die piet wat die “calls” maak.
Of hoe?

Gollie

Ongelukkig nie hierdie keer nie.

Johan

Henk is heeltemal reg. Hul OPSIE om eerder vir die drie te gaan, blyk geregverdig (dalk nie reg nie) te wees as mens kyk na hoe McKenzie in ‘n posisie geplaas is om te gaan druk. Gelukkig vir ons het Dyanti se hand die bal getref (nie eers ‘n soliede duikslag soos Faf de Klerk so jaar gelede in daai een toets nie) en soos Gollie skryf het dit toe nie vir die All Blacks uitgewerk nie. Geluk geluk geluk. Sou ‘n skepdoel oor gewees het? Ons weet nie. Satisties het die AB’s en Barrett hulself nie vertrou om vir… Lees meer »