Net groot verrassings kan Tuks, Maties uit eindstryd hou

Kyle Steyn, regtervleuel van die Maties, laat verdedigers al die hele seisoen bontstaan. (Foto: Liam-Hamer Nel/Saspa)

Die Maties en Tukkies is die oorweldigende gunstelinge in hulle onderskeie halfeindronde-wedstryde Maandag, maar ’n verrassing of selfs twee is nie uitgesluit nie.

Maties lyk te sterk vir die UJ

Het die UJ enigiets wys geword uit verlede week se vernederende neerlaag met 19-54xcxcx teen die Maties? Het hulle ’n teenvoeter vir die verwoestende Stellenbossers?

Dit is die soort vrae wat hierdie week deur die Johannesburgers gevra sal word aan die vooraand van Maandagmiddag se halfeindronde tussen die twee spanne in Stellenbosch.

Die Maties het verlede week nooit regtig onder druk gelyk nie en het nege keer agter die UJ se doellyn gaan kuier.

Die Stellenbossers se agterlyn was verwoestend – nie net verlede week nie, maar al die hele seisoen. Met ’n agterste driehoek wat uit Craig Barry, Kyle Steyn en Edwill van der Merwe bestaan, kan dit ook nie anders nie.

Die grootste vraag seker in die Johannesburgse kamp die week is hoe hulle die Maties se doellyn gaan oorsteek.

Die Maties het verlede week elke aanval van die besoekers in die kiem gesmoor. Daarby het hulle die besoekers se senter Aphiwe Dyanti, wat al die hele seisoen die gteenstanders terroriseer, verlede week geen beweegruimte gegun nie.

Die besoekers se kaptein en haker, Johannes Snyman, sal van voor moet lei as die Johannesburgers van ’n sege droom. Hy sal sy troepe moet laat glo dat ’n oorwinning binne hulle bereik is.

Die UJ kon nog nooit verder as die halfeindronde van die kompetisie vorder nie. Die 2017-bult lyk soos ’n berg. ’n Berg wat dalk oorwin kan word.

Maar die Maties gaan moeilik gestuit word. Hul enigste neerlaag was in hulle eerstewedstryd, teen Tukkies. Daarna was al die ander spanne aan die ontvangkant van span wat sy oog weer op die belangrikste titel in studenterugby het.

Spanne –

Maties: 15. Craig Barry (kapt.), 14. Kyle Steyn, 13. Michal Haznar, 12. Chris Smit, 11. Edwill van der Merwe, 10. Ernst Stapelberg, 9. Brendon Nell, 8. Devon Nash 7. Stephan Streicher, 6. Mitchell Carstens, 5. Johan Momsen, 4. Ian Groenwald, 3. JE van der Merwe, 2. Craig Corbett, 1. Niel Oelofse. Bank: 16. Hendrik Luus, 17. Wesley Adonis, 18. Wikus Groenewald, 19. Ruben de Villiers, 20. Saud Abrahams, 21. Paul de Wet, 22. Chris Smith, 23. Duncan Saal.
UJ: 15. Ewan Adams, 14. Peter-John Walters, 13. Aphiwe Dyanti, 12. Jaco Fourie, 11. Godfrey Ramaboea, 10. Divan Nel, 9. Johan Esterhuizen, 8. Jo-Hanco de Villiers, 7. Len Massyn, 6. Wian Conradie, 5. Adriaan Bester, 4. Kevin du Randt, 3. Nico du Plessis, 2. Johannes Snyman (kapt.), 1. Dylan Bakos. Bank: 16. Le Roux Baard, 17. Kyle Kruger, 18. Chergin Fillies, 19. Kyle van Dalen, 20. Devon Maré, 21.Ronald Brown, 22. Carlisle Jordaan, 23. Reinhard Nothnagel.

Afskop: 16:30 (Regstreeks op SuperSport.)

Kan die Shimlas teen Tukkies verras?

Niemand gee die Shimlas ’n kans om Maandagaand met Tuks in Pretoria af te reken nie. Die Pretorianers dis al die hele seisoen rugby op wat getuig van ’n span wat oor uiters talentvolle en vaardige spelers beskik.

Maar die Vrystaters kan dalk, net dalk, ’n verrassing lewer. Hulle het self vaardige spelers wat ’n moontlike oorgerustheid in die Tukkies se kamp kan uitbuit.

As die Shimlas wil wen sal hulle ’n manier moet vind om die Tukkies se gedugte voorry, Andrew Beerwinkel, Corniel Els en Johan Fouche, te neutraliseer. Veral Beerwinkel het al menige teenstanders vanjaar swaar in die skrums laat leef.

Boonop is die Pretorianers se skakelpaar, Riaan Warner en Tinus de Beer, al die hele jaar op hul stukke. De Beer is die Tukkies se spelskepper en ook ʼn man wat sy gevaarlike agterlyn oordeelkundig kan inspan.

Spelers soos ondermeer die heelagter Divan Rossouw en die senter Impi Visser floreer met die hoeveelheid balbesit wat hulle op die voorvoet van De Beer ontvang.

Maar die Bloemfonteiners het ’n inspuiting gekry met die nuus dat die woelwater-flank, Daniel Maartens, fiks verklaar is vir die stryd. Hy en sy flankmaat, Phumzile Maqondwana, kan in tandem die Pretorianers by die afbreekpunte hoofbrekens besorg, terwyl hulle vermoëns met bal in die hand ook welbekend is.

Agterlangs sal die ervare Lihleli Xoli, wat ’n paar seisoene gelede vir die Ikeys in dié kompetisie uitgedraf het, en Maandagaand met die kaptein Stephan Janse van Rensburg in die middelveld kombineer, wil wys dat hy die gevaarlike Toko Maebane in toom kan hou.

Kan die Shimlas die Pretorianers klop? Gebeur dit, sal dit die grootste opskudding vanjaar wees.

Spanne –

Tuks: 15. Divan Rossouw, 14. Dewald Naude, 13. Toko Maebane, 12. Impi Visser, 11. Sibahle Maxwane, 10. Tinus de Beer, 9. Rian Warner, 8. Clyde Davids, 7. Chris Massyn (kapt.), 6. Marco van Staden, 5. Aston Fortuin, 4. Brian Leitch, 3. Neethling Fouche, 2. Corniel Els, 1. Andrew Beerwinkel. Bank: 16. Jan-Henning Campher, 17. Jaco Holtzhausen, 18. Marius Verwey, 19. Eduan Lubbe, 20. Theo Maree, 21. Manie Libbok, 22. Joshua Stander, 23. Franco van den Berg.
Shimlas: 15. Marco Mason, 14. Vuyani Maqina, 13. Lihleli Xoli, 12. Stephan Janse van Rensburg (kapt.), 11. Carel-Jan Coetzee, 10. Charl Naude, 9. Dian Badenhorst, 8. Wilandré Kotzenberg, 7. Phumzile Maqondwana, 6. Daniel Maartens, 5. Niel Classen, 4. Nicolaas Immelman, 3. Ruan Kramer, 2. Anrich Alberts, 1. Kwenzokuhle Blose. Bank: 16. Hanno Snyman, 17. Johan Kotze, 18. Thabiso Msiza, 19. Raymond Woest, 20. Nardus Erasmus, 21. Armand Pretorius, 22. Rayhaan Lombaard, 23. Sechaba Matsoele.

Afskop: 19:00 (Regstreeks op SuperSport.)

♦  In die halfeindstryde en die eindstryd sal daar weer ’n witkaartstelsel geld. Hiervolgens kan ’n afrigter of kaptein ’n beslissing van die skeidsregter vir hersiening na die televisie-skeidsregter verwys. Elke span kan in elke helfte een beslissing verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.